Sirkusleeus terug in natuurlike habitat

Dié leeus is reeds in 2018 uit die sirkus gered, maar kon nou ná byna vier jaar eers terugkeer ná Suid-Afrika (Foto: Verskaf)

Vier leeus wat uit ʼn sirkus in Frankryk gered is, is Donderdag in hul nuwe tuiste in die Shamwari-natuurreservaat, 75 km buite Gqeberha (Port Elizabeth) in die Oos-Kaap, vrygelaat. Dié leeus is reeds in 2018 uit die sirkus gered, maar kon nou ná byna vier jaar eers terugkeer ná hul tuisland en was weens die Covid-19-pandemie ook “ingeperk”.

Angela, Bellone, Saïda en Louga is as jong welpies verkoop en het toe deel geraak van ’n Franse sirkus. Hulle is in 2018 gered en is sedertdien by ’n reddingsentrum naby Lyon in Frankryk gehuisves.

Vroeg in 2019 het die internasionale diere-liefdadigheidsorganisasie Born Free van die leeus te hore gekom en onderneem om vir hulle ’n ewige tuiste by Shamwari te gee.

Luidens ʼn verklaring wat deur Born Free uitgereik is, het ondersteuners van wyd en syd fondse ingesamel om die leeus na hul tuisland terug te stuur. Voorbereidings is getref, spesiale kratte is gebou, permitte verkry en vlugte bespreek. En toe steek die Covid-19-pandemie ʼn stokkie voor dié organisasie se planne…

Hierdie manjifieke “Lions of Lockdown”, soos hulle gedoop is, was nes die res van die wêreld ingeperk en kon nêrens heen reis nie.

ʼn Nuwe begin

Al vier leeus was merkwaardig kalm en ontspanne tydens hul reis (Foto: Born Free)

Die leeus se reis na hul tuisland het Dinsdag uiteindelik gerealiseer. Hulle het van die reddingsentrum in Lyon na die Paris Charles de Gaulle-lughawe gereis, voordat hulle na Suid-Afrika vertrek het.

“Al vier leeus was merkwaardig kalm en ontspanne tydens hul reis. Toe hulle by Shamwari aankom, was die span verheug om te sien hoe hulle almal met selfvertroue en entoesiasties uit hul reiskratte klim en begin om die inheemse landskap te verken,” lui die verklaring.

“Louga, die enigste mannetjie in die groep, het dit geniet om in die skadu van een van die bome te sit en ’n wakende oog te hou oor die drie wyfies wat naby mekaar gebly het. Hulle het almal goed geëet en gedrink.”

Die veearts en welsynspan van die reservaat is vol vertroue dat hulle vinnig by hul nuwe omgewing sal aanpas.

Angela, Bellone, Saïda en Louga sluit nou aan by ’n trotse erfenis van byna 50 groot katte wat ʼn tweede kans gegun is in die heiligdom van Shamwari.

Die Julie Ward-sentrum, waar die leeus Donderdag vrygelaat is, is op 29 Maart 1997 geopen deur die organisasie se stigter, Virginia McKenna OBE, en Shamwari se oorspronklike eienaar, Adrian Gardiner.

McKenna OBE sê sy is verheug oor die vier leeus wat ná ʼn leeftyd van gevangenskap nou die liefde en respek gaan kry wat hulle verdien.

“Uiteindelik het hul gras tussen hul pote, son op hul pels en eindelose skaduwee,” sê sy.

Catherine Gillson, Born Free-bestuurder by Shamwari, sê die natuurskoon, geluide en geure van hul mede-geredde groot katte sal dié leeus se sintuie onmiddellik opskerp as hulle begin akklimatiseer en aanpas by hul nuwe leefwyse. “Hulle is nou in hul ewige tuiste in Afrika,” sê Gillson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kloekie ·

Ek kan nie verstaan hoe kan daar vandag nog diere in sirkusse aangehou word of in hokke in dieretuine.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.