Sisulu laat wenkbroue lig met nóg ʼn bedenklike aanstelling

Die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, is weer in omstredenheid gehul nadat sy nóg ʼn ou politieke vriend met ʼn bedenklike agtergrond aangestel het in ʼn senior posisie, op belastingbetalers se rekening.

Hierdie keer is dit Gugile Nkwinti, oudminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, wat sy aangestel het as voorsitter van die wateradviesraad. Wat presies Nkwinti se spesialiskennis oor waterkwessies is, is tans onbekend. Hy sal slegs werk op ʼn deeltydse basis verrig (15 dae per maand), maar ʼn allemintige R2,4 miljoen per jaar verdien.

“Dit is belaglik,” sê Emma Powell, DA-skaduminister van menslike nedersetting, water en sanitasie.

Nkwinti was verlede jaar in omstredenheid gedompel toe die Openbare Beskermer hom daaraan skuldig bevind het dat hy die kabinet se etiese kode én die Grondwet oortree het. Dit nadat hy gereël het dat sy departement die plaas Bekendvlei teen R97 miljoen aankoop en dit oordra aan sy  ANC-makker, Errol Present. Present is sedertdien gearresteer weens beweerde betrokkenheid by transito-rooftogte.

Nkwinti is ook tussen 2009 en 2019 gekritiseer dat grondhervorming onder hom maar traag verloop het.

Powell het onlangs ook aan die lig gebring dat die omstrede adv. Menzi Simelane en die voormalige spioenbaas Moe Shaik deur Sisulu as spesiale adviseurs aangestel is.

Shaik het reeds uit sy pos geskuif, terwyl Simelane, wie se destydse aanstelling as nasionale direkteur van openbare vervolging wenkbroue laat lig het, se aanstelling deur ʼn kommissie van ondersoek as irrasioneel bestempel is.

Irrasioneel of nie, Simelane bly in sy pos as Sisulu se spesiale adviseur.

Sisulu, wat nog nie op die kritiek op Nkwinti se aanstelling gereageer het nie, is ook oortuig Nkwinti is ʼn uitstekende keuse as lid van die wateradviesraad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Karen ·

15 dae ‘n maand @ R2,4milj inkomste per jaar? Wat rook hulle???

Zacahara ·

Jip, net jammer die kieser op voetsoolvlak is nie hiervan bewus nie. Wat my ook nou laat wonder: wat is die Ministertjie se paketjie?

Spekkies ·

R1666 per uur is glad nie sleg nie. En dit as hy 8ure per dag insit wat ek sterk betwyfel.

Nie Verbaas ·

Ek hoop nie die aanstelling word nie net so gelos nie. Suid Afrika is alreeds verwoes. Ek verstaan ook nie, wil regering nie geld spaar nie?

Kiewiet ·

Ooooo Weeee? Kan dit waar wees? Mag sy dit doen, wat se haar baas?

Yvonne ·

Dis kommerwekkend dat iemand in haar pos nie oor die vermoë beskik om aanstellings te maak wat tot voordeel van d land is nie. En dan boonop so ‘n rojale salaris aanbied vir’ n deeltyds pos! Waar krap hulle die geld uit in die huidige finansiële verknorsing waarin die land is om soveel aan die man se salaris te spandeer!

Louis ·

As ons as Afrikaners hierdie lojaliteit teenoor mekaar kan handhaaf, sal ons “berge kan versit”

Koos ·

Sisulu – aartskommunis en sosialistiese voorloper in die proses van landsvernietiging.

Strandloper ·

Die beste is die dom agterbakse rugraatlose verskoning van n presidentjie knip nie n oog nie… So stoom die verwoesting net voort…

Eugene ·

En Cyril doen absoluut niks nie. Beteken dit dat hy sulke optrede goedkeur?

Kokerboom ·

Toon weereens hoe arrogant en onverskillig die kader ministers met die land se geldsake omgaan!!! Veral die minister wat haar verbeel sy leef op haar eie ontasbare wolkie!

Jacobus ·

Kan ten minste twee regte deskundiges se name noem wat die land verlaat het omdat hulle verslae ingedien het wat die manier van doen gekritiseer het. Ga!

Willem ·

En sy word deur linkse kommentators as een van die beter ministers gesien. Bowendien het sy presidensiële ambisies en in daardie dampkringe word sy ‘n goeie kans gegee om dit te verwesentlik.

daniel ·

Die ANC se korrupsie duur net voort asof die land nog netso so ekonomiese suksesvol is as toe die ANC oorgeneem het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.