Sisulu ontken Guptas-aanbod

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings. Foto: Flickr/GovernmentZA

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings. Foto: Flickr/GovernmentZA

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, het Dinsdag bewerings deur die EFF ontken dat sy van die departement van verdediging na haar huidige portefeulje geskuif is omdat sy geweier het om vliegtuie by die omstrede Gupta-familie te huur.

Sisulu het in ʼn verklaring bevestig dat sy bewus is van die EFF se bewerings, maar het dit ten sterkste ontken.

Floyd Shivambu, adjunk-president van die EFF, het Maandag tydens ʼn menseregtedag-geleentheid in Port Elizabeth gesê die Gupta-familie het Sisulu glo met die aanbod genader toe sy die minister van verdediging was. Shivambu het die bewering later tydens ʼn onderhoud op PowerFM herhaal.

“Sisulu het die Gupta-ooreenkoms geweier en is toe na die [departement van] openbare diens en administrasie geskuif. Vat ons maar hof toe hieroor,” het Shivambu gesê.

Die bewering oor Sisulu kom kort ná verskeie onthullings deur hooggeplaaste ANC-leiers dat die Gupta-familie hulle ministersposisies aangebied het in ruil vir sake-gunste. Voormalige ANC LP, Vytjie Mentor, en huidige adjunk-minister van finansies, Mcebisi Jonas, het albei beweer dat die Gupta-familie hulle na hul Saxonwold-herehuis ontbied het. Pres. Jacob Zuma was glo bewus van hierdie ontmoetings met die Guptas.

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het egter oor die naweek sy steun aan Zuma herbevestig en gesê enige bewerings oor die Gupta-familie moet aan die party se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, deurgegee word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Martin ·

Dit raak al hoe beter. Nou gaan daai huis van kaarte begin inmekaar tuimel.

Pietertjie ·

Al hierdie rokies wat oral so uitslaan, gaan vir ‘n interessante vuurwerk-vertoning sorg! Ek wag in spanning…

GES ·

Hulle lieg nou so dat dit al hoe moeiliker raak om die die leuens bymekaar aan te pas. Dit is nou net ‘n kwessie van tyd.

Kalahari Boer ·

Ontkenning oor alles is altyd maar die cANCer se ete resep en die antie Sisulu is maar klouend aan die resepte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.