Sisulu-raadgewer by OB, Skoor verkla

Die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, (Foto: GCIS)

Die DA sê hy gaan klagte by die Openbare Beskermer (OB) en die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) indien nadat twee geskorste uitvoerende hoofde van twee verskillende waterrade strafregtelike klagte teen een van minister Lindiwe Sisulu se raadgewers aanhangig gemaak het.

Emma Powell, die DA se woordvoerder oor water, sê die klagtes behoort Vrydag ingedien te word.

Die klagte wat die uitvoerende hoofde van die Amatola- en Lepelle-waterraad teen Mphumzi Mdekazi ingedien het, hou verband met beweerde onbehoorlike inmenging in die verkrygingsprosesse van die twee rade.

“Die DA kan nou bevestig dat albei uitvoerende hoofde strafregtelike klagte teen die ministeriële raadgewer Mphumzi Mdekazi, wat moontlik namens die minister of senior amptenare opgetree het, aanhangig gemaak het. Die uitvoerende hoofde het ook albei regskennisgewings op die minister self beteken,” het Powell gesê.

Die stawende verklaring wat die hoofde ingedien het, is opgestel ingevolge die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede. Albei voer aan dat Mdekazi polities ingemeng het.

Die uitvoerende hoofde meen albei dat hulle geteiken word omdat hulle opgetree het teen pogings deur die departement om Empowering Water Solutions (EWS) aan te stel om droogtebestuursprogramme te hanteer. EWS het glo noue politieke bande.

Powell sê die klagtes wat die hoofde aanhangig gemaak het, vertel ʼn ander storie as Sisulu se weergawe van gebeure wat nou gelei het tot haar aanstelling van adv. Terry Motau om bedrog en korrupsie in die departement te ondersoek. Motau moet spesifiek op die waterrade fokus.

Sy sê Mdekazi het Phineas Legodi, uitvoerende hoof van die Lepelle Noordelike Waterraad, aan ʼn direkteur van EWS voorgestel en gesê hy gaan dié maatskappy, asook ander maatskappye wat alternatiewe tegnologie gebruik, nooi om ʼn voorlegging aan die Waternavorsingskommissie te doen.

Legodi het die tesourie toestemming gevra om van die gewone verkrygingsproses af te wyk ná ʼn direktief van die minister se kantoor wat die raad opdrag gegee het om EWS as die voorkeurbieër vir ʼn proeflopie te gebruik.

Volgens Powell het die tesourie ingestem.

In Oktober verlede jaar het die minister ook die raad ingelig dat sy EWS direk opdrag gegee het om te begin met noodmaatreëls om water aan nedersettings in Limpopo te verskaf. Sisulu het ook gesê sy het die hoofverkrygingsowerheid gevra om toestemming aan EWS te gee om water aan die raad te verskaf.

Legodi voer aan hy het vanweë die raad se swak finansiële situasie kapsie hierteen gemaak.

Sowat twee weke later, op 15 November, het Sisulu ʼn ondersoek gelas na die raad se geldsake. Dit sou deur ʼn maatskappy genaamd ORCA gedoen word.

In April vanjaar is die ondersoek uitgebrei om leefstyloudits van Legodi, asook ander uitvoerende lede van die Lepelle-raad, in te sluit.

Legodi het ʼn verklaring aan die ondersoekers verskaf waarin hy sy kommer oor die minister se inmenging uiteensit.

Hy is verlede week geskors.

Powell sê ʼn soortgelyke situasie het by Amatola Water in die Oos-Kaap afgespeel. Daar het Mdekazi glo probeer inmeng in die verkrygingsproses om te verseker die raad ken nóg ʼn kontrak aan EWS toe.

Na bewering het Mdekazi in Augustus verlede jaar tydens ʼn vergadering aan die raad se uitvoerende hoof, Vuyo Zitumane, gesê hy kan die raad help om finansiering van die tesourie vir projekte te bekom. Hy het ook verskeie politieke opmerkings gemaak. Dit het glo ingesluit ʼn oproep om Sisulu as ANC-leier in 2022 te steun nadat haar vorige poging in 2017 misluk het.

Zitumane beweer dat was beduidende ministeriële inmenging in die ooreenkoms van R230 miljoen. Druk is glo uitgeoefen dat 60% van die geld op spesifieke projekte bestee moet word. Zitumane voer aan sy is op 23 April geskors omdat sy dit teengestaan het. Sy het ook dokumente in die verband by die departement ingedien.

Binne net twee weke het Sisulu nou reeds twee nuwe waarnemende uitvoerende hoofde vir die waterrade aangestel.

Powell sê die DA gaan die dokumente wat die twee hoofde ingedien het as stawende bewyse by sy klagte by die OB en Skoor aanheg.

Die departement het ʼn versoek om kommentaar van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kokerboom ·

Dis tyd dat dat die dame ook ondersoek word. Sy is helemal te verhewe bo ander en toon ooreenkomste met Ace Magashule se onderduimse optredes in die Vrystaat.

Scalla ·

Stem saan Danie, sy ry op die rug van haar sogenaamde struggle familie, hoekom raadgewers aanstel, bewys dat sy nie die job kan doen nie.

Fedup ·

When a stupid individual do or say something he/she is ashamed of or caught in a lie, he/she always declares that it was his/her duty. These people are so predictable.

Anel ·

En so gaan die korupsie en bedrog en beskuldigings aan. Het die lot geen einde, geen gewete nie? En hulle noem hulle self leiers? Wonder van wat?

M ·

Liewe genade mense

Daar is géén grense
aan die wesens se wense
vir vet pênse vol drank
en “vol gevrete” mense
wat smalend dan rook uit tannie Zuma spêns
smagtend
verwronge
met een een gedagte
wanneer vat ons elke “vergdagte”
net as
gedagte.

Groete. Marius Bergh

Sarel ·

Hoekom nie ook teen die geagte Minister nie of skuil dy nou , soos gewoonlik, agter die klein mannetjie of wordcsy beskerm

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.