Sit dit af, sit dit af … kragopwekkers veroorsaak sonde met bure

Die gedreun van ‘n kragopwekker kan dalk tot sonde met die bure lei, maar daar is maniere om die geraas te verminder. (Argieffoto: Maroela Media)

En hoor jy die magtige dreuning? Ja, dit is die geluid van voorstedelike Suid-Afrika: kragopwekkers wat tydig (en soms ontydig) dreun weens die voortslepende beurtkrag wat die land teister – en in sommige gevalle lelike onmin tussen bure kan veroorsaak.

Die Stad Kaapstad en die Tshwane-metro sê boonop hulle het die afgelope paar maande beslis meer klagtes ontvang oor die geraas wat kragopwekkers veroorsaak.

ʼn Inwoner van Irene in Pretoria is een van diegene wie se kragopwekker hom in die moeilikheid by die bure – én so byna by die Tshwane-metro – laat beland het.

ʼn Amptenaar van die munisipaliteit het vroeër vandeesmaand by die inwoner, wat gevra het dat sy naam nie genoem word nie, se huis opgedaag en ʼn aanmaning afgelewer wat lui dat sy kragopwekker nie aan die stad se regulasies voldoen nie.

Die aanmaning lui dat indien hy nie die gebruik van die spesifieke kragopwekker staak nie, hy ʼn boete van tot R20 000, tronkstraf van tot twee jaar – of albei – opgelê kan word.

Dit lui voorts dat die Tshwane-metro se departement vir omgewingsgesondheid verskeie klagtes ontvang het oor die kragopwekker wat “deurlopend geraas maak en die rus van die bure verstoor”.

“Geen persoon mag enige masjinerie, saag, skuurmasjien, boor, slypmasjien, grassnyer, tuin-kraggereedskap of soortgelyke toestel in ʼn woonbuurt gebruik of toelaat indien dit ʼn geraassteurnis veroorsaak nie,” lui die brief.

Volgens die kennisgewing mag niemand ʼn aanleg (soos ʼn kragopwekker) met ʼn algehele kraginset van meer as 10 kW en/of 10 kVA op enige perseel aanbring sonder die voorafgoedkeuring van die plaaslike owerheid nie. Die metro voer aan die inwoner se kragopwekker is groter as dít.

Die man sê die bure het vantevore al gekla dat die kragopwekker raas en glo rookbesoedeling veroorsaak. Hy het daarna groot pogings aangewend om die kragopwekker beter te insuleer en só te posisioneer dat moontlike uitlaatgasse nie sy bure hinder nie.

Dit het oënskynlik nie veel gehelp nie.

Die man sê in ʼn soektog na spesifieke regulasies oor die gebruik van kragopwekkers het hy onder meer ʼn inligtingspamflet van die Tshwane-metro opgespoor wat lui dat die vereiste vir die installering van ʼn noodkragopwekker nie ʼn algehele kraginset van 10 kW mag oorskry nie. Dit verwys egter nie na enige bepaling oor kVa nie.

Die grootte van ʼn kragopwekker word meestal in kVA (kilovolt-ampère) aangedui, verduidelik ʼn meganiese ingenieur. ʼn Opwekker van 10 kW is gewoonlik naastenby 12,5 kVA is – en die man se kragopwekker voldoen bes moontlik wél aan die metro se regulasies.

Pieter Els, mede-eienaar van Talisman City Generators in Gezina in Pretoria, sê verskillende kragopwekkers het verskillende geraasvlakke, maar daar is maniere om die gedreun te verminder.

Nuwe tegnologie beteken ook dat sommige opwekkers deesdae “superstil” is wanneer dit bedryf word. ʼn Opwekker van 12 kVA is gewoonlik voldoende vir ʼn gewone woonhuis, terwyl dieselaangedrewe opwekkers gewoonlik veel stiller as hul petrolaangedrewe eweknieë is. Die opwekker kan ook in ʼn stilboks met spons aan die binnekant gebou word om geraas selfs verder te verminder.

Els se aanbeveling vir ʼn gewone woonhuis is ʼn kragopwekker van 10 kVA, met ʼn dieselenjin wat in ʼn stilboks toegebou is – en as dit op die regte plek geplaas word, behoort dit die vrede met die bure te help bewaar.

Veel meer geraasklagtes

In die Tshwane-metro kan geraas- of lugbesoedeling tot ‘n boete of selfs tronkstraf lei. (Skermgreep)

Die Tshwane-metro en die Stad Kaapstad het in antwoord op navrae gesê hulle het die afgelope ruk heelwat meer klagtes oor geraas ontvang.

“Dit gaan gepaard met beurtkrag en veral die hoër fases daarvan,” sê Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metro.

Hy sê geraas is egter ʼn subjektiewe kwessie; en twee mense kan dieselfde geluid op verskillende maniere beleef. Wanneer die stad ʼn geraasklagte ondersoek, word daar onder meer na die omgewing en spesifieke wetgewing gekyk om klagtes op te los.

“Wanneer ʼn klagte egter nie opgelos word nadat voldoeningskennisgewings uitgereik is nie, sal die stad ʼn dossier voorberei en die saak na die hof verwys. Die hof besluit dan op ʼn straf vir ʼn oortreder,” sê Mashigo.

Hy het ook bevestig dat die grootte van ʼn huishoudelike noodkragopwekker nie ʼn grootte van 10 kW mag oorskry nie.

Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdiens en gesondheid by die Stad Kaapstad, sê ook hier het die departement “ʼn besliste toename in kragopwekker-verwante klagtes oor geraas ontvang”.

Die departement van energie reguleer die goedkeuring van ingeboude laevolt-opwekkingsinstallasies in Kaapstad, hoewel verskeie ander regulasies ook kan geld.

Die stad se munisipale bepalings oor luggehalte hanteer ook die gebruik van opwekkers en bevat onder meer ʼn bepalings oor rusverstoring.

Van der Ross sê wanneer ʼn klagte ontvang word – oor byvoorbeeld uitlaatgasse of reuke – word dit ook ingevolge munisipale bepalings hanteer. “Ons vereis van die klaer om ʼn beëdigde verklaring af te lê oor die uitwerking van die uitlaatgasse op sy of haar gesondheid en welstand,” sê sy.

Die metro kan dan byvoorbeeld vra dat wysigings aan die uitlaatstelsel van die toestel aangebring word. “Daarom moet die installerende ingenieurs die nodige sorg aan die dag lê in die ontwerp en installasie van die uitlaatstelsel om te verseker dit veroorsaak geen stoornis wanneer dit gebruik word nie.”

Geraasbeheerregulasies geld ook vir die gebruik van kragopwekkers.

Wees bure maar genadig

Die gebruik van ‘n kragopwekker kan groot onmin tussen bure veroorsaak. (Skermgreep)

Die ingenieur met wie Maroela Media gepraat het, sê eerder as om bloot op die afdwing van regulasies te fokus, moet daar ook groter bewustheid oor die veilige gebruik van kragopwekkers gekweek word – veral omdat dit ʼn al hoe meer alledaagse verskynsel in gewone huishoudings is.

Groot bewusmaking is byvoorbeeld nodig oor die veilige stoor van brandstof, behoorlike installasie, deeglike ventilasie en natuurlik voldoening aan die verskillende regulasies.

“Ons leef in ʼn tyd van beurtkrag. Ons moet die situasie waarin ons onself bevind darem ook in ag neem,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.