‘Sit ons asseblief in die ry om hulp te kry’

droogte reint

Foto: Reint Dykema

Solidariteit het vier fotograwe opdrag gegee om die effek van die landwye droogte af te neem. Die foto’s word op 28 Januarie in die Atterbury-teater in Pretoria vertoon en opgeveil. Die volle opbrengs word aan die droogtefonds geskenk. Vir meer inligting oor die geleentheid lees die vorige berigte daaroor op Maroela Media.

Die onderstaande brief is van dié van ʼn boervrou wat die krisis aangrypend aan Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, beskryf het. 

Beste Dirk

Ek hoop dat jy hierdie ongevraagde e-pos in ’n goeie gees sal ontvang. Dit was ná die gesprek op RSG oor droogtehulp aan kommersiële boere dat ek besluit het om aan jou te skryf.

Ek is ʼn boervrou en skryf namens ons boerdey, sonder dat my man daarvan weet. Eintlik is dit vir my moeilik want ons is van kleins af geleer om nie om hulp te vra nie, maar om self die mas op te kom.

Ons is konsensieuse, hardwerkende en ek glo oordeelkundige mense wat konserwatief leef en nog nooit onverskillig met geld te werk gegaan het nie. Ten spyte daarvan bevind ons ons, soos baie ander boere glo ek, in ’n moeilike finansiële situasie.

Ons het verlede jaar ʼn swak mielieoes gehad. Ons het oorlaatskuld oorgehou nadat ons die oes gelewer het. Vanjaar hoef ek nie aan jou te beskryf nie. Ons voer al maande lank ons beeste, skape en boerbokke asook melkkoeie en koop elke bek voer wat hulle eet omdat daar geen sprake van weiding meer is nie. Ons koop mieliereste, lusern, koringstrooi, grondboonreste, eintlik enige voer en ruvoer wat ons in die hande kan kry. Ons koop daagliks die noodsaaklike en peperduur proteïen- en mineraalbyvoegings wat noodwendig ingemeng moet word. Elke week met die hoop dat dit die laaste week sal wees. Ons het geen inkomste en die uitgawestroom is groter as gewoonlik. Op dié manier, omdat die droogte aanhou en aanhou, het ons al by elke limiet verbybeweeg.

Ons hamermeulens loop van vroeg tot laat, in die voerstoor meng ons van sewe soggens tot sewe saans, die voerkarre loop op en af na die voersilo’s, voerbakke en lekbakke. Die beeste kom aangehardloop na die bakkie as hulle die lusern ruik. Al ons pogings ten spyt wys die beeste se ribbebene nou.

As boervrou is ek ʼn bietjie verward. Daar is meer as een organisasie wat droogtehulp aanbied. Ek het al die nodige vorms ingevul soos dit tot my kennis gekom het. Ek sien oral in die elektroniese media hoe vragte voer aangery word, maar weet nie hoe om dit te bewerkstellig nie? Tot dusver het ons sakkies voerpille van Voermol vir ons skape gekry, waarvoor ons dankbaar is, al is dit net ’n gebaar. Ek verstaan eintlik nie hoe groot ʼn mens se ellende moet wees voor jy hulp mag vra en wel ontvang nie? Ons kan darem nog kos koop, maar alles wat ons doen is op ʼn oortrokke rekening. Nugter weet hoe ons dit gaan uitwis nie want ons plant nie hierdie seisoen mielies nie. Ons kan nie nóg ’n insetmislukking hanteer nie. Dit sal die plaas insluk. Intussen word ons kapitale en rentelas net al groter.

Ek het dit egter vir myself só uitgemaak. Almal kry ewe swaar. Kleinboer of grootboer. Almal is gelyk in die stryd.

Om dié rede skryf ek maar die brief. As ons in ’n ry moet staan om hulp te kry, plaas ons ook asseblief in die ry. Maar as daar iemand is wat nie kos het om te eet nie, sit hulle voor ons in die ry.

Ons sal enige hulp waardeer wat ons kooplas ligter kan maak: voersaad, kunsmis, lusern, koringstrooi, verpilde produkte of voerkonsentrate.

Dit het hier gereën waarvoor ons dankbaar is, maar dit maak strepe. Van 30 mm tot geen reën in sommige dele. Die ergste is dat dit lyk of die gras en bome traag is om uit te loop. Ons weet nie of dit tot in die wortel dood is nie.

Die winter lê voor en soos dit nou lyk sal ons deur die winter moet voer, ten minste die beeste.

Dankie dat iemand luister. Dra asseblief my dank oor aan elke mens wat ’n bydrae lewer om die droogte en die gevolge daarvan te verlig.

Ek voel oneindig jammer vir my eie man en vir elke boer. Hulle hou hulle sterk.

Groete

Boervrou

 

 

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: SA-nuus, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Wikus ·

Ons bid vir julle. Jesus sê as jy my eenmaal angeneem het as jou vader sal ek jou nooit ooit verlaat nie. Sterkte.

TM ·

Ek sal graag wil help. Kan ek dalk kontak besonderhede kry van die betrokke persoon?

Sune van Heerden ·

Dagsê TM

Ek het sopas ‘n boodskap met kontakbesonderhede na jou e-posadres gestuur.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Henri ·

Sune, is dit moontlik om die distrik waar die mense is te plaas, sal dit dalk makliker en vinniger maak, Logisties gsproke, om hulp daar te kry

Sune van Heerden ·

Dagsê Henri

Dit is in Hertzogville distrik in die Vrystaat.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Yvonne ·

Ek wil ook help, asb Maroela, stuur vir my ook die kontakbesonderhede.

Sune van Heerden ·

Dagsê Yvonne

Dankie, ek het kontakbesonderhede per e-pos aan jou gestuur.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Lenie ·

Stuur asb kontak en bank besonderhede vir droogte hulp na my epos.. Veral vir die vrou. Baie dankie. Aan die boervrou: Mensie wees sterk. Jy is n inspirasie vir ons en jou nederigheid het my tot trane. Ek is so ongelooflik jammer vir jul en ook al die ander boere wat swaar trek. Weet dit God slaap nie vrou. HY sien jou nood en hulp sal kom. Vir ieder en elk. Suid Afrika…jul wat so gehelp het en nog help..jul is mense..ware mense. Dit maak my trots om n Suid Afrikaner te wees.

Sune van Heerden ·

Dagsê Lenie

Dankie, ek het ‘n e-pos aan jou gestuur.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Elize ·

Net die Boere in Nood groep het reeds oor die 1000 boere op n waglys vir hulp. Ek dink nie ons besef die krisis wat besig is om af te speel nie. Baie sterkte Boervrou, ek bid dat julle binnekort bietjie verligting sal kry.

Magrietha ·

Ek is self ń Boer vrou van Hertzogville en glo my as die mense nog nie swaar gesien het nie is dit die plek waar hulle moet kom kyk dit gaan swaar met al die boerre maar regtug ek kan nie dink dat dit so swaar moet gaan nie die boorgate droog op en daar is nie veld vir die beeste nie jy verkoop beeste en skaape vir amper niks op die veiling nie net omdat jy nie vir dit kan sorg nie ek en my kinders woon tans by ń famielie lid omdat daar nie geld is om die kinders van die plaas af skool toe tery nie my man sit daar alleen en stress hom op en ek sit met kinders wat hulle pappa mis ek bid waneer ek kans kry vir die boerre van ons land wat deur die krissis gaan en ek weet en glo God gaan ons help ons moet net aan hou glo daar gaan ń uitkoms wees en sterkte aan al ons Land se boerre daar buit God is Groot en hy sal ons help Liefdetjies ekke

Julene ·

Kan Ek asb die kontak besonderhede van die boere van Hertzogville district aanvra. Baie dankie

JH ·

Hi boervrou,

Ek was al klaar in trane vanaand voor ek jou brief gelees het.. Nou kan ek nie ophou huil nie. My pa hulle boer ook en tenspyte van die feit dat ek al meer as 10 jaar in die stad bly sal die plaas altyd “huis” wees. Ek het vandag slegte nuus ontvang in die sin van my pa wat nog meer verloor het deur die loop van Donderdag aand. Aangesien daar niks weiding vir die diere is moet hulle meer en meer skape en beeste verkoop. Hulle was besig om skape te klas om uittekies wat nou die opkomede week verkoop moet word. Deur die aand is my pa beroof van al sy ramme. So, met net die diere wat die boerdery nou dra, het hulle nie n enkele ram oor om mee oor te begin nie. Tenspyte van dit bly ons glo en sal aanhou glo dat God sal voorsien. Baie sterkte vir julle. Moenie moed verloor nie.

Berhalet Beukes ·

Ek sien my kommentaar is verwyder, interessant. Ek kan nie insien hoe dit teen die voorwaardes en bepalings was nie, maar nou ja.

Ina ·

Boervrou ek bid vir julle. Terwyl ons boere bid vir reen sodat hulle kan voedsel verskaf vir Suid Afrika, word ons om elke hoek en draai aangekla van rassisme. Weet die regering waar kom ons voedsel vandaan?

Lulu ·

Na hierdie hartroerende brief vir hulp en nood sien ek die artikel van die regering wat se die droogte is nog nie ‘n nasionale krisis nie? Wat de hel is vir hulle ‘n krisis?

sarie van heerden ·

Hoe ellendig moet dit met die boere gaan voordat die land se president dit sal besef? Lees hy koerante of luister hy nuus? Of wat van die personeel wat hy het? Ek is nie ‘n boer nie maar ek lees koerante en luister en kyk nuusberigte. Kan niemand die man gaan help nie?

Frans ·

God sal uitkoms gee wat gebeur gebeur met redes en net ons vader ken die redes bly net getrou hy bring uitkoms altyd

Han ·

Sal Maroela Media my asseblief voorsien van die nodige bankbesonderhede, ek sal baie graag ‘n bydrae wil maak. Dankie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Han

Baie dankie, ek het vir jou ‘n e-pos met kontakbesonderhede gestuur.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Anoniem ·

Ai! Ek verstaan só goed. As ‘n kind het ek die bekommernis in my pa se oë gesien, die bid vir reēn, die kyk na die wolklose hemel dag na dag, en die reën wat steeds wegbly. Sal julle asb hierdie briefskryfster se bankbesonderhede of e-pos adres vir my stuur?

Sune van Heerden ·

Dagsê Anoniem

Dankie vir jou kommentaar.
Ek het ‘n e-pos met kontakbesonderhede vir jou aangestuur.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Ilze Garnett-Bennett ·

Stuur asb hierdie vrou se bank besonderhede. My hart breek vir hulle.

Celia Tjaden ·

Maroela,goeiemiddag. Wil julle nie asb in jul media berig oor die projek wat Maandag deur Radio Tygerberg begin is (deur n vrou Adri) om boere soos hierdie brief hierbo BOERVROU te help nie? Kan BOERVROU asb haar noodbrief stuur aan Radio Tygerberg ASB! Weet julle ouens wat? ek besef ons bid en ek besef God HOOR! hierdie skenkings is van die Here af! En ASB skryf die briewe soos BOERVROU gedoen het hoe anders gaan mense hoor van die nood! Daar gaan hulp kom! BID EN DOEN!l Dit gaan van krag tot krag! Dis spesifiek van ons hier in die Wes Kaap wat geld inbetaal (ons het vandag na 3 dae ! al R 765,000-00 genoeg vir 200 ton voer! bymekaar. Die eerste 9 boere en hul diere is vanoggend gehelp en hul diere van n gewisse dood gered. Daar is nou 7 trokke gelaai met voer! Hul het vandag ook n projek geloots om honde katte hoender kos te koop – dit word afgelaai by Radio Tygerberg se kantoor in Parow(versamelpunt) en volgende week ry hul op na boere in nood om vir hulle diere te help. Daar is HOOP daar is HULP.
Kontak gerus Radio Tygerberg 104-
Die luisteraars in die Kaap is besig om hande diep in sake te steek om mense soos BOERVROU en haar man te help. Dis gebede wat verhoor word. Alle eer aan die Here.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.