Sitole betwis koerantberig oor Senzo Meyiwa

Senzo Meyiwa Foto: soccerladuma.co.za

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het ʼn berig betwis wat die Sunday Independent geplaas het rakende die moord op Senzo Meyiwa, Orlando Pirates- en Bafana Bafana-doelwagter.

Sitole het Maandag in ʼn verklaring gesê die artikel “bevat ʼn magdom aannames, onwaarhede en innuendo’s wat die potensiaal kan hê om onnodige onsekerhede te veroorsaak”.

Maroela Media het vroeër berig die 27-jarige Meyiwa is sowat vyf jaar gelede in ʼn rooftog by ʼn huis in Vosloorus in Boksburg doodgeskiet. Niemand is nog in verband met die moord aangekeer nie.

Meyiwa was ten tyde van die moord saam met sy vriendin, Kelly Khumalo, haar ma, haar sussie, dié se vriend en twee van die paartjie se ander vriende by die huis.

Dié ooggetuies het destyds gesê drie gewapende mans het die huis, vermoedelik in ʼn rooftog, ingestorm. Meyiwa is in die proses geskiet.

Die koerant het Sondag berig dat kol. Bongani Gininda, die voormalige hoofondersoeker in die moordsaak, ʼn deurslaggewende verklaring wat in 2017 ontvang is, weerhou het oor wie Meyiwa vermoor het en waarom.

ʼn Saak van regsverydeling is in Mei vanjaar teen Gininda aanhangig gemaak, maar hy is egter na KwaZulu-Natal oorgeplaas voordat hy in hegtenis geneem of ondervra kon word.

Polisiebronne het aan die koerant gesê niemand van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is bereid om ʼn lasbrief vir Gininda se inhegtenisneming te onderteken nie.

Volgens Sitole is Gininda nooit aan die ondersoek onttrek of vervang nie. Hy is steeds die hoofondersoeker sedert hy verlede jaar by die ondersoek aangesluit het.

“Die artikel is niks minder nie as storievertelling wat hoofsaaklik gegrond is op aannames wat slegs geïnterpreteer kan word as ʼn bedoeling om die nasie te mislei,” het die polisiehoof gesê.

Sitole het verder gesê Gininda het ʼn magdom ondervinding in strafregtelike ondersoeke nadat hy een van die land se grootste onderwêreld-misdaadfigure, die Tsjeggiese bendelid Radovan Krejcir, vasgetrek het.

“Daarom kan almal verseker wees dat dié ondersoek deur ʼn span onder leiding van ʼn goeie en bekwame ondersoeker behartig word,” het Sitole gesê.

Die saak is weer in die nuus nadat die burgerregtegroep AfriForum verlede week aangekondig het dat adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, as die Meyiwa-familie se advokaat in die ondersoek na sy dood aangestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Magda ·

Afriforum – GErrie Nel sal glo ek die skuldige kry, en ek hoop dat geregtigheid sal geskied vir die onnodige dood van Zenso, en dat eaar berusting kan kom vir sy Familie – Niks si so onaangenaam as die onsekerheid en onwilligheid vd NGV om die Moordenaar(s) te vang.

John ·

AfriForum bemoei hom met sake wat die staat moet hanteer. Hoeveel mense word nie vermoor waarvan die skuldiges nooit vervolg word nie. Moet Gerrie Nel nou onderhou word met swaarverdiende geld. Hoekom is hy weg by die staat? Die Forum raak sy pad byster. Sorry my china.

Kas ·

Iets in die berig maak ook nie vir my sin nie.Deur wie is die verklaring afgelê?dit moet iemand wees wat daar was of iemand wat iets weet.As Gininda dan so goeie speurder is hoekom sloer die saak solank.Al is hy verplaas man hy nogsteeds ondervra word as hy geimpliseer word.Dit is regsverydeling.Die familie will geregtigheid sien gebeur.Was dit regtig ‘n rooftop Hoe weet die tolerant van die verklaring Baie vra maar geen antwoorde

Ja swaer ·

Krejcir vasgetrek? Moenie laat ek lag nie mnr Sitole. Krejcir het oop en bloot aan die Oos Rand gewoon. Dis nou onse nasionale polisiekommissaris vir jou. Ons wag in spanning dat mnr Gininda nou die moordenaars vang …

PJC ·

Verstommend hoe die polisie skielik lewe kry as Afriforum betrokke raak. Jammer vir die van julle wat nie kan of wil verstaan hoekom Afriforum by sulke aangeleenthede betrokke raak nie. Miskien is dit ń geval van “none so death as those who will mot hear”.

JohanR ·

Is dit nie wonderlik hoe skielik die polisie wakker skrik waaneer vra begin om te vra word? Amper asof hulle van hulle Lazy-Boys afspring waar hulle besig is om die Sunday Independent te lees, en se “die berig kan nie waar wees nie”? “Kom ouens ons moet ‘n paar minute se eintlike werk nou doen, om die berig te betwis”!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.