
Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, luister aandagtig na die polisieminister Bheki Cele. (Foto: Phando Jikelo/ANA)
Genl. Khehla Sitole, die nasionale kommissaris van polisie, het gesê hy het met skok en onthutsing verneem van die uitlatings deur Bheki Cele, minister van polisie, oor ʼn beweerde komplot.
Cele het Maandag tydens die debat oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede beweer Julius Malema, leier van die EFF, en Sitole het saamgesweer om hom van sy amp te onthef.
Die minister beweer Malema en Sitole het op 10 Desember byeengekom, waar die “plan en die sameswering” om hom “te jaag” bedink is.
Sitole het die ontmoeting met Malema bevestig en voer aan die vergadering is deur die polisie geïnisieer en spesifiek in opdrag van Cassel Mathale, adjunkminister van polisie.
“Die adjunkminister het genl. Sitole versoek om met Malema te vergader om potensiële dreigemente teen hom [Malema] te bespreek,” het brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, gesê.
Volgens Naidoo het Malema in 2020 met die nasionale kommissaris en lt.genl. Sam Shitlabane, die polisie se hoof van beskerming- en veiligheidsdienste, by die Tshwane-polisieakademie vergader.
“Die vergadering het uitsluitlik gehandel oor die beweerde dreigemente teen Malema en niks anders nie en is daar terugvoering aan die adjunkminister verskaf.”
Volgens Sitole was hy onder die indruk dat Cele bewus van wat tydens die vergadering bespreek is aangesien dit deur sy adjunk gefasiliteer is.
Cele het ook beweer dat Sitole nie vanjaar se staatsrede bygewoon het nie. Volgens Naidoo was die nasionale polisiehoof by die staatstede teenwoordig en kan die rekords van die parlement dit bevestig.
“Die nasionale kommissaris is verstom oor die feit dat sy naam en beeld om politieke redes aangetas word,” het Naidoo gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
23 Kommentare
Al die Suid-Afrikaners word permanent bedreig in Suid-Afrika. Kan ons ook sulke voorkeur behandeling geniet? Ons betaal immers jul salarisse en verwag dat julle ALMAL in die land so behandel en nie net sekeres nie.
Stole moet vinnig gaan en sele moet kort op sy hakke wees.
Ek kan ook verbaas speel … dis nie ‘n kuns nie.
“And so the plot thickens”. Egte onderduimse gekonkel. Kan diesulkes in leiers posisies vertrou word ?
Dis ‘n “dog eat dog world” tussen die kaders…