Sitole ontken dat hy nie samewerking gee in Kinnear-ondersoek

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, luister aandagtig na die polisieminister Bheki Cele. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Die nasionale polisiekommissaris het aantygings ontken dat hy nie sy samewerking aan die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) rakende die ondersoek na Charl Kinnear se moord gee nie.

Genl. Khehla Sitole se kantoor het gesê dit was dan juis hy wat die saak na Opod vir ondersoek verwys het.

Die nasionale kommissaris is dus verontrus oor bewerings dat ʼn strafsaak teen hom geopen is omdat hy glo versuim het om saam te werk met die ondersoek wat hy as ʼn klaer begin het, het brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, gesê.

Sitole hou vol dat hy en sy kantoor te alle tye hul samewerking aan Opod rakende die ondersoek gegee het en die aanbevelings wat voortgespruit het uit die uitslag van die ondersoek wel ingestel het.

Volgens Naidoo is Sitole nie ingelig oor die aard en omvang van die bewerings oor sy beweerde gebrek aan samewerking nie en sal hy reageer sodra hy ʼn klag van Opod ontvang.

EWN berig dat Opod ook ʼn brief aan Bheki Cele, minister van polisie, gerig het oor Sitole se beweerde weiering om hulle in die ondersoek by te staan.

Nafiz Modack is vroeër die maand borgtog geweier in die Kinnear-moordsaak. Twee van sy medebeskuldigdes, Jacques Cronje en Ashley Tabisher, is ook borgtog geweier. Amaal Jantjies, Jannick Adonis en Zane Killian is reeds vroeër borgtog geweier terwyl Ricardo Morgan op borgtog van R50 000 vrygelaat is. Die saak teen die beskuldigdes is tot 28 Februarie uitgestel.

Lt.kol. Kinnear is op 18 September koelbloedig in sy motor voor sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Marius ·

Nou wonder ek hoekom OPOD kla dat hul nie samewerking kry nie? Is ‘n verwysing na OPOD genoeg of moes daar meer gedoen gewees het?

Misky ·

Natuurlik het Sitole die saak na Opod verwys, want dit sou snaaks lyk indien hy dit nie doen nie. Nie te sê hy werk nou saam nie en hoekom sal hulle onnodig die klag nou indien??? Nee wat Sitole, jy is net sleg en onbevoeg.

Sarel ·

Wat is fie geagte Minister, nie ‘n vriend van Sithole nie,
se imvloed by OPOD.. Is OPOD werklik onafhanklik?

Pieter ·

so die popo het ‘n tweede/derde popo betaal om hulle werk te doen… hmmmm

Kokerboom ·

Die kader Sithole was, is en sal NOOIT bevoeg wees vir die pos! Net sy liggamshouding weerspieel dit . Hy is(saam met sy Minister) ‘n “disgrace” en ‘n verleentheid vir die land

Esme ·

Vergeet asseblief al die afkortings en Kommissies van Ondersoek en arresteer die skuldiges. Die afkortings vervul duidelik nie hulle taak nie.

Samuel ·

Sal ‘n mens ooit die waarheid weet? Wie lieg nou weer die beste?

Astrain ·

Ontken ontken ontken en almal word geskors met vol salaris en bitter min gaan sit met hul agterent in die tronk!!!

lollapot ·

n Eerbare, hardwerkende man is van sy lewe ontneem is deur lafhartige boewe! En dit om hul spoor van georganiseerde misdaad uit te wis…
WIE almal betrokke was, Sal ons seker nooit weet nie… Rus in vrede Kolonel Kinear
Sterkte aan sy vrou en kinders, hy het dit nie verdien nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.