Sitole se kontrak as polisiehoof beëindig

Genl. Khehla Sitole (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het genl. Khehla Sitole se dienskontrak as nasionale polisiekommissaris beëindig.

“Pres. Ramaphosa en genl. Sitole het ooreengekom dat die vroeë beëindiging van die kommissaris se kontrak in die beste belang van die land is,” het die presidensie Vrydagmiddag in ’n verklaring gesê.

Sitole se dienskontrak kom nou op 31 Maart tot ’n einde.

Sitole sal in dié tydperk alle onafgehandelde ondersoeke na behore kan oordra aan een van die senior lede van die span wat hom as kommissaris bygestaan ​​het.

Volgens die presidensie sal daar in ’n latere stadium aangekondig word wie Sitole se pos as polisiehoof sal vul.

“Ek is dankbaar teenoor genl. Sitole vir die opbouende gesprekke oor die beëindiging van sy pos as nasionale kommissaris,” sê Ramaphosa. “Ek wil my waardering aan hom oordra vir sy diens aan die nasie oor baie jare in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Ek wens hom die beste toe.”

Sommige organisasies, waaronder Action Society, het reeds die president se besluit verwelkom, hoewel die polisieminister se kop nou ook geëis word.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, en die polisieminister, Bheki Cele. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

“Die beëindiging van Sitole se dienste is ’n klein stappie in die regte rigting, maar min. Bheki Cele moet ook afgedank word, terwyl ’n onafhanklike paneel aangestel word om ’n bevoegde nasionale kommissaris te kies,” meen Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society.

Sitole en Cele het vroeër vandeesmaand ’n bittere stryd in die openbare oog gevoer.

Cele het die kommissaris daarvan beskuldig dat hy met die leier van die EFF, Julius Malema, saamgesweer het om hom uit die kussings te lig.

Die minister beweer Malema en Sitole het op 10 Desember byeengekom, waar die “plan en die sameswering” om hom “te jaag” bedink is.

Sitole het teruggekap en aangevoer dat die ontmoeting met Malema deur die polisie geïnisieer is.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

En wanneer volg super intelligente Cele?

Vallie

Sithole is nou die vierde Nasionale PolisieKommissaris wat in die pad gesteek word. Almal vanaf Selebi, Phiyegha, Cele en nou Sitole was korrup en onbevoeg. Wonder watter ANC Joggie gaan nou weer aangestel word.

JM

Hoog tyd! Cele moet ook gaan.

domheks

regtig? het rama ‘n ruggraat of nie? Laat ou cele ook gaan, hy wil net op strande mense ‘vang’ en toesluit.
tog so bang hy sien nie die dames in hul swempakkies nie?!?!

Anel

Wat van die hoed man? Raak so gou as moontlik ook van hom ontslae! Stel ‘n kommissaris aan wat deur die range gekom het, met behoirlike opleiding en behoorlike kennis van die polisie. Nie ‘n gewone burger nie!!!