Situasie bedaar in Soweto

Plundery in Soweto Foto: @FrancoisCTown op Twitter.

Plundery in Soweto Foto: @FrancoisCTown op Twitter.

Daar heers weer kalmte in Soweto ná ʼn week van geweld en plundery van winkels wat aan uitlanders behoort.

“Die situasie in Soweto en ander betrokke gebiede is weer rustig,” het lt.genl. Solomon Makgale, woordvoerder van die polisie, Saterdag gesê. “Gegewe die situasie, het ons besluit dat ons die individue in hegtenis moet neem wat op video’s gesien kan word waar hulle winkels plunder.”

Die polisie in Dobsonville het Vrydagaand tydens klopjagte 15 persone in hegtenis geneem.

Meer as 170 persone is die afgelope week in hegtenis geneem in verband met die plundery en geweld.

Die onrus het Maandag begin toe ʼn Somaliër die 14-jarige Siphiwe Mahori doodgeskiet het toe hy en ʼn paar van sy vriende glo by die man se winkel in Snake Park wou inbreek. Senosi Yusuf sal na verwagting Maandag in die Protea landdroshof verskyn.

Volgens The Star is Nhlanhla Monareng (19) Woensdag in Naledi geskiet en hy is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar. Volgens berigte is hy geskiet toe die polisie op ʼn skare voor ʼn Pakistani se winkel losgebrand het. Hy was ʼn omstander en glo vriende met die Pakistani’s.

The Star het ook berig Dan Mokwena (74) van Malawi is Woensdagoggend aangeval en in sy winkel doodgemaak.

Genl. Lesetja Mothiba, provinsiale polisiekommissaris, het intussen gesê dwelmverslaafde jeugdiges is uitgeken as diegene wat die winkels geplunder het.

Lees alle vorige berigte oor Soweto op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Drieks ·

Nee, nie net dwelms nie.
Hul ouers in die onderwys en myne wys hul hoe om geweldadig te toitoi en niks te voel nie.
Pappa Zuma wys hul hoe vat jy om vinnig ryk te raak.
Trots geskep deur die Anc….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.