Situasie by hawens verbeter ná chaos

Die sitruskwekersvereniging sê die vrywillige optrede van kwekers wys hoe verenig die bedryf is om gesamentlike uitdagings te pak. (Foto: Vaalbos Trust)

Die Sitruskwekersvereniging van Suidelike Afrika sê die chaos wat veroorsaak is deur verlede maand se grootskaalse oproer in KwaZulu-Natal en die kuberaanval op Transnet, het veroorsaak dat die land se hawens geweldig verstop was.

Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die vereniging, sê daar was onder meer beperkings op die beweging van vraghouers en vrag in en uit die hawe, asook op die kapasiteit van verkoelingspunte.

“Gevolglik is ʼn beroep op kwekers in die noorde gedoen om oes, verpakking en vervoer na Durban van Vrydag tot Donderdag tydelik te staak.

“ʼn Mens skakel nie net die worsmasjien af nie – daar was steeds beduidende hoeveelhede vrugte wat verskuif moes word en vragmotors het vandeesweek begin aankom,” sê Chadwick.

Hy sê volgens die syfers van vragmotors onderweg na Durban, en diegene wat reeds daar aangekom het, het kwekers gehoor gegee aan die oproep. Dit het ruimte geskep vir die vragte om verwerk te word en het die haweomgewing ʼn kans gegee om die agterstand in te haal.

Chadwick sê die bedryf vergader gereeld met Transnet en ander belanghebbendes sodat die situasie fyn dopgehou en alle betrokkenes op die hoogte gehou kan word.

ʼn Soortgelyke beroep is ook op kwekers in die Oos-Kaap gedoen nadat daar ook verstopping ondervind is.

“Die vrywillige optrede van kwekers wys hoe verenig die bedryf is om gesamentlike uitdagings te pak. Die bedryf neem ook verantwoordelikheid sonder dat regulasies nodig is of afgedwing moet word,” sê Chadwick.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

Dit is in die SA’ners se geaardheid om in moeilike tye saam te staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.