Situasie by Lebombo-grenspos ‘onaanvaarbaar’ – komitee

Die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek (Foto: Departement van openbare werke)

Die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake het sy misnoeë te kenne gegee oor die stand van sake by die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek en sê die minister, Aaron Motsoaledi, moet kom verduidelik.

Komiteelede het die grenspos besoek ná talle berigte oor ellelange toue, lang wagtye en ʼn gebrek aan Covid-19-maatreëls. Mense, sommige met kinders, was soms dae lank by die grenspos gestrand sonder toegang tot kos, water of sanitasiegeriewe.

Adv. Bongani Bongo, komiteevoorsitter, sê ʼn dringende ingrypingsplan word van alle betrokke departemente benodig om te verseker die situasie word omgekeer.

“Lede van die komitee was eenparig in hul kritiek op die bedrywighede by die grenspos, veral omdat die owerhede dokumentasie van ʼn beperkte getal mense verwerk weens die grensposte wat gesluit is.”

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand aangekondig talle landsgrensposte word gesluit in ʼn poging om die verspreiding van Covid-19 te stuit. Net sekere mense word in hierdie stadium toegelaat om die grenspos te gebruik.

Die komitee het die grenspos as deel van sy oorsigprogram besoek om self ondersoek na die situasie in te stel, veral oor klagtes oor die humanitêre en gesondheidsrisiko’s wat die afgelope twee maande ooglopend by die grensposte ter sprake was.

Bongo sê die komitee het bevind daar is glad geen voldoening aan basiese gesondheidsprotokolle soos sosiale afstandhandhawing of die beskikbaarheid van ontsmettingsmiddels nie, maatreëls wat beskou word as die beste gereedskap in die stryd teen Covid-19.

Motoriste staan vreër tou by die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek. (Foto: Verskaf)

Ook kommerwekkend was die gebrek aan grensgesondheidspraktisyns om mense by die grens vir Covid-19 te toets – ʼn probleem wat boonop veroorsaak dat mense nou selfs langer tyd by die grenspos moet deurbring en dit moontlik in ʼn superverspreider van die virus kan verander.

“Die komitee was verstom om net drie grensgesondheidsbeamptes daar aan te tref en daar is kommer oor die kaartmasjien wat nie gewerk het nie en ʼn uitwerking gehad het op reisigers se vermoë om vir die toets te betaal,” het Bongo gesê.

Die komitee het die betrokke departemente tot die einde van Donderdag gegee om iets aan die situasie te doen en ʼn omvattende verslag oor ʼn plan van aksie voor te lê.

Bongo sê die situasie benadruk ook die behoefte vir die inwerkingstelling van die Grensbestuurowerheid as ʼn manier om samewerking en bevel-en-beheer, asook aanspreeklikheid, te verseker.

“Ons het politieke wil nodig om die probleem te pak en die dringende inwerkingstelling van die owerheid is nodig. Mense moet ook aanspreeklik gehou word.”

Bongo sê die gebrek aan samewerking tussen departemente is ook duidelik.

Hy het gevra vir verbeterde samewerking tussen Suid-Afrika en sy buurlande om probleme te help uitstryk.

“Ons is ingelig dat ʼn aanvanklike bydraende faktor tot die opeenhoping die feit was dat Mosambiek aanvanklik geweier het om antigeentoetse as bewys van ʼn negatiewe Covid-19-uitslag te aanvaar. Mosambiek het die besluit, wat ʼn uitwerking op die toue gehad het, intussen opgeskort,” het Bongo gesê.

Die komitee het die weermag ook geloof vir sy pogings om te verhoed dat onwettige immigrante die land by Mbuzini, naby die grens tussen Mosambiek, Suid-Afrika en eSwatini (voorheen Swaziland), instroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

domheks ·

Mini-sters sit in grendeltyd en NIKS doen, met volle salaris. Nou wil almal ‘n eiertjie le. Al die jare sonder geriewe klaar gekom, nou skielik kry Covid-19 vir alles die skuld.
Stem saam met Willem – as almal net hul werk wil doen!

Stefan ·

Bykans als in Suid Afrika is onaanvaarbaar, nie net die grenspos nie.

Nie Verbaas ·

ANC sirkus duur net voort. Gesonde denke bly hulle ontwyk.

Baardman ·

Die minister weet nie hoe om die probleem te verduidelik of ip te los nie. Hy weet net waar sy geld maandeliks inbetaal word en hoe om dit te gebruik

Hennie ·

Ge-Afrikaniseer, soos die res van die land. Beplanning is slegs ‘n Westerse begrip….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.