Hoewel paaie Maandagaand na die Oukasie- informele nedersetting buite Brits in die Noordwes met brandende buitebande versper was, is dié paaie intussen oopgestel vir gebruik en orde is binne die dorp herstel.
Só sê kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie. Myburgh het Dinsdagoggend aan Maroela Media gesê Elandsrandpad asook Wagpospad is vanoggend opgeruim en oopgestel.
Dít volg nadat talle betogers Maandag chaos veroorsaak het gedurende ʼn betoging oor dienslewering.
Volgens Myburgh het die betogers gisteroggend van Oukasie na die munisipale kantore in die dorp opgeruk waarna paaie met brandende buitebande versper en motors met klippe bestook is.
Altesaam 45 betogers is op aanklagte van openbare geweld in hegtenis geneem en sal vandeesweek nog in die hof verskyn.
Vragmotors is ook gedurende die betoging voorgekeer waarna betogers dié voertuie gebruik het om die paaie te versper. Dit is in dié stadium onduidelik hoeveel vragmotors voorgekeer is aangesien sake van motorkaping steeds by die polisiestasie aanhangig gemaak word, het Myburgh gesê.
“Die situasie is tans onder beheer. Die verkeer vloei goed in en uit Brits en ʼn hoë polisieteenwoordigheid word in die gebied gehandhaaf om die situasie te monitor.”
Myburgh het die publiek gemaan om nie fopnuus rakende die betoging te glo nie. Dit sluit in valse bewerings wat versprei word dat sakeondernemings in Brits hul deure moet sluit. “Ons kry baie valse inligting wat die ronde doen. Dit is nie waar nie. Die polisiëringseenheid vir openbare orde het die situasie onder beheer.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
20 Kommentare
Kan die menseregte kommissie asb verduidelik hoe die gewone mense se regte beskerm word sou iemand agv byvoorbeeld n hartaanval dringend by n hospitaal of dokter moet uit kom.
Ek woon in Brits en besighede moes wel gister hulle deure sluit!
En dan gaan hulle WEER vir die ANC stem!!!
Die probleem wat die mense het is die polisie en die dwelmbase vra die taxibestuurders wat die paaie blokkeer dienslewering is hier net n bysaak die polisie is die groot probleem.
Daar word gereeld geweldadige betogers voor die hof gedaag. Daarna hoor ‘n mens niks want hulle word blykbaar nooit ooit gevonnis nie.