Situasie in Koster steeds plofbaar

Polisiebeamptes op die toneel waar betogings in Koster in Noordwes woed (23 Mei 2018). Foto: ANA

Ná ʼn nag van gewelddadige betogings in Koster in Noordwes, is die situasie vanoggend steeds uiters gespanne.

Sers. Ofentse Mokgadi, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die pad wat in en uit Koster lei is weereens vanoggend deur betogers versper en polisiebeamptes is steeds in die gebied ontplooi. “Op hierdie oomblik is dit rustig en het ons nog nie gesien dat die betogers weer begin saamdrom op plekke nie. Maar die situasie is plofbaar,” het Mokgadi gesê.

Hy het bevestig agt mense is deur die nag in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld, opsetlike saakbeskadiging en brandstigting. Dit kom nadat winkels in Reagile wat aan buitelanders behoort Woensdagnag geplunder is en die burgemeester van die Kgetlengrivier-munisipaliteit se huise en voertuie gister aan die brand gesteek is.

Betogers in Koster. Foto: Verskaf

Maroela Media het vroeër berig die burgemeester, Kim Medupe, se huis, haar gastehuis en vier voertuie wat op die perseel gestaan het, is deur betogers aan die brand gesteek. Betogers het ook verskeie items huisware uit die burgemeester se huise gesteel. Die sentrale sakegebied van Koster is heeltemal gesluit.

Die agt verdagtes sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn.

Inwoners eis basiese munisipale dienste, maar Medupe voer aan die betoging gaan nie werklik oor dienslewering nie. Sy meen die grondkwessie word gebruik om betogers aan te por om haar en haar munisipaliteit aan te val en sê daar was drie weke gelede ʼn grondbesetting in Reagile.

“Ná die grondbesetting het ons interne prosesse van stapel gestuur om mense bewus te maak van die grondkwessie en die gemeenskap het na ons geluister. Ons het deur middel van die raadslede gemeenskapsvergaderings met hulle gehou. Dieselfde leiers het toe begin om mense aan te hits om grond te beset,” het sy gesê.

“Dae gelede is daar ʼn vergadering gehou waar mense aangemoedig is om die munisipaliteit aan te vat oor die grondkwessie. Hulle gebruik grond as ʼn rede om met die munisipaliteit te baklei. Die situasie het nog verder oorgespoel na Swartruggens toe waar beamptes jongmense aangehits het om in opstand te kom teen die munisipaliteit.”

Polisiebeamptes op die toneel waar betogings in Koster in Noordwes woed (23 Mei 2018). Foto: ANA

Israel Matsile, gemeenskapsleier, hou egter vol inwoners is nie gelukkig oor dienslewering in die gebied nie. “Hierdie betogings gaan oor swak dienslewering. Ons is nou vir te lank op die kantlyn geskuif. Wanneer ons praat, luister die munisipaliteit nie na ons nie. Wanneer ons vra vir ʼn vergadering met die mense wat verantwoordelik is vir infrastruktuur, dan sê hulle vir ons hulle het hul eie vergaderings om by te woon,” het hy gesê.

Joseph Mogale, bestuurder van die Kgetlengrivier-munisipaliteit, het gesê die munisipaliteit neem kennis van die inwoners se besware. “Die munisipaliteit veroordeel egter ten sterkste die brand van eiendom en doen ʼn beroep op die ontevrede inwoners om hul besware op ʼn vreedsame wyse te opper en deur onderhandelinge op te los,” het Mogale gesê.

Hy het gesê die munisipaliteit is heeltemal bereidwillig om met die gemeenskap in gesprek te tree en na hul besware te luister sodat dienslewering na normaal kan terugkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

George ·

Het ons land miskien ‘n president??? Glo nie so iets wat daagliks gebeur sal so maklik in Amerika gebeur nie.

Casper Labuschagne ·

As dit elders in Afrika gebeur, dan sorg die polisie en/of soldate dat dit binne minute verby is, meestal omdat daar dan al ‘n hele paar lyke in die straat lê. Dit is net in Suid Afrika, Chili en die Oekraïne waar daar klaarblyklik ‘n demokratiese reg bestaan om af te brand.

moeg ·

Vereeniging hoef nie meer bekommerd oor dienste en uitstaande fooie te wees nie, want die munisipale kantore is Dinsdag nag totaal venietig in ‘n brand. Nou wonder ek hoe gaan hulle nou maak??????????????

Casper Labuschagne ·

Geen probleem nie. Die amptenare raai eenvoudig hoeveel tienduisende rande jy skuld vir uitstaande munisipale belastings, tariewe en dienste. Die onus is daarna op jou om die teendeel te bewys anders moet jy eenvoudig betaal. Dis darem lekker nê?

Rupert Ashford ·

Is die mense bereid om te betaal vir die dienste wat hulle so vreedsaam eis? Eish….

chrisjan ·

Die betogings oor swak dienslewering is net ‘n rookskerm.Dis te lekker om te betoog deur padgebruikers se regte te skend deur paaie te blokkeer terwyl die polisie “die situasie monitor” en NIKS doen om ander se regte te beskerm nie. Die betogers het aleen reg om te maak wat hulle wil.Geen betogers moet toegelaat word om paaie te blokkeer nie.Dis ‘n skending van motoriste se regte maar waarom sal die polisie omgee? Dis te lekker om te staan en kyk hoe volksgenote verwoesting saai.

Piet ·

Chrisjan, om ‘n openbare pad te blok is geheel en al teen die wet. Daar is oor genoeg rede om n noodtoestand in party streke aftekondig, dan is dit baie maklik om dinge onder beheer te bring binne die raamwerk van die wet. Die ANC wil en sal dit nooit doen nie, wat mens laat wonder oor wat hul agenda eintlik is. Dis hierdie werklikheid waaroor mense nie wil praat nie, want dit veroorsaak kwansuis ‘n “kloof”.

zeno ·

Vaderland!! kan Mnr CR nie sy oë oopmaak en sien wat in die land aan die gang is,hy kan dit stop as hy wil,want hy het die mag. Ek kan nie glo jy sit as `n hoof van die land en doen niks hieroor. Dit is onaanvaarbaar.

Rupert Ashford ·

Indien Mnr CR iets wou doen (wat ek betwyfel) is hy maar net ‘n marionet van die groter, gekorrupteerde ANC en voer hy maar net bevele uit. 10 jaar van JZ se invloed op ‘n alreeds baie siek organisasie (wat hom inmers ingestem het) kan nie in 100 dae omgekeer word nie selfs al sou daar sulke bedoelings wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.