Situasie in Mahikeng steeds plofbaar

Gewelddadige betogings woed in Mahikeng in Noordwes (19 April 2018). Foto: ANA

Terwyl pres. Cyril Ramaphosa vandag op pad is na Mahikeng in Noordwes waar gewelddadige betogings al dae lank woed, is polisiebeamptes steeds in die gebied ontplooi te midde van hoë spanning in die gebied.

Brig. Sabata Mokgwabone, provinsiale polisiewoordvoerder in Noordwes, het Vrydagoggend aan Maroela Media gesê die situasie in Mahikeng en omliggende gebiede is “beter” as gister, maar steeds uiters plofbaar. Intussen word daar asem opgehou om te sien of Ramaphosa se besoek aan die gebied ʼn einde aan die geweld kan bring.

Maroela Media het vroeër berig Ramaphosa het Donderdagaand aangekondig dat hy sy besoek aan die Verenigde Koninkryk, wat deel vorm van die presidensie se buitelandse beleggingsveldtog, gaan kortknip te midde van die betogings en erge oproerigheid in Noordwes. Die president en talle ANC-hoës sal vandag die gebied besoek waar die president ʼn dringende vergadering met leiers van die provinsie belê het.

Gewelddadige betogings woed in Mahikeng in Noordwes (19 April 2018). Foto: ANA

Volgens Mokgwabone is nog sewe verdagtes in die vroeë oggendure in hegtenis geneem nadat ʼn ysterwarewinkel in die gebied geplunder is. Dit bring die totale aantal inhegtenisnemings in die gebied sedert Woensdag op 23 te staan.

Mokgwabone het gesê nege verdagtes wat Woensdag op aanklagte van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging in hegtenis geneem is, het Donderdag in die hof verskyn. “Die saak teen hulle is tot 29 Mei uitgestel en hulle is almal op waarskuwing vrygelaat,” het hy gesê. “Die res van die verdagtes is nog in polisieaanhouding en sal waarskynlik Maandag in die hof verskyn.”

Intussen het die geweld in die provinsie gister voortgewoed. Volgens Mokgwabone is ʼn voertuig by die departement van openbare werke se kantoor aan die brand gesteek. Nog ʼn voertuig en ʼn sekuriteitshut by die departement van onderwys is ook aan die brand gesteek.

Gewelddadige betogings woed in Mahikeng in Noordwes (19 April 2018). Foto: ANA

Talle buitelandse burgers se winkels is geplunder, asook ʼn groot drankwinkel in die gebied. “Daar was ʼn poging om die gebou van die Mmabana-stigting aan die brand te steek en die gebou is gedeeltelik beskadig. Betogers het ook probeer om die N4 by Zeerust af te sper, maar die polisie is vinnig ontplooi en ons kon dit dadelik hanteer,” het Mokgwabone gesê.

African News Agency berig ʼn polisie-njala is met ʼn petrolbom bestook toe beamptes betogers in Mmabatho Gedeelte 14, noord van Mahikeng, uiteengejaag het. Die njala is later glo deur betogers omgekeer, maar niemand is beseer nie. Nog ʼn njala is in Danville, suid van Mahikeng, met ʼn petrolbom bestook.

Mokgwabone het gesê die polisie probeer veral daarop fokus om die in- en uitgange na Mahikeng oop te maak om die publiek toe te laat om heen en weer in die gebied te beweeg. Botswana se departement van burgerskap en immigrasie het Donderdag sy landsburgers in ʼn verklaring gewaarsku dat alle ingangs- en uitgangspunte na Mahikeng gesluit sal wees tot verdere kennisgewing.

Polisiebeamptes moes Donderdag by tye van rubberkoeëls en traangas gebruik maak om betogers uitmekaar te jaag.

ʼn Bus is aan die brand gesteek tydens ʼn betoging in Montshioa naby Mahikeng in Noordwes (18 April 2018). Foto: ANA

Verdagte doodgeskiet

Intussen het Mokgwabone gesê ʼn rooftog en skietgeveg wat Donderdag naby een van die hotelle in Mahikeng plaasgevind het, hou nie met die betoging verband nie.

Volgens Mokgwabone het ʼn rooftog naby die hotel plaasgevind en was die polisie binne oomblikke op die toneel omdat hulle reeds in die gebied ontplooi was. Die beamptes het gesien hoe die verdagtes in twee voertuie van die toneel wegjaag en kon hulle vinnig agternasit.

Volgens Mokgwabone het ʼn polisievoertuig met een van die verdagtes se voertuig gebots en het daar ʼn skietgeveg tussen die polisie en die verdagtes ontstaan. “Tydens hierdie skietgeveg is een van die verdagtes doodgeskiet. ʼn Saak van moord is aanhangig gemaak en die voorval word deur die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod) ondersoek,” het hy gesê.

“Ons wil dit egter duidelik stel dat dié voorval en die betogings nie met mekaar verband hou nie. Daar is mediaberigte wat beweer dat die skietery deel van die betogings was, maar dit is nie waar nie.”

Betogers versper die N12 in Klerksdorp (19 April 2018). Foto: Facebook via Sibusiso Kula

N12 ook deur betogers versper

Intussen het lt.kol. Adele Myburgh, nog ʼn polisiewoordvoerder, Vrydagoggend aan Maroela Media gesê die situasie in Klerksdorp is kalm nadat ʼn betoging ook Donderdagaand daar opgevlam het.

Volgens Myburgh het inwoners van die Alabama-woonbuurt in Klerksdorp dele van die N12 met brande buitebande afgesper en is die polisie in die gebied ontplooi. “Die polisie kon daarin slaag om met die betogers te onderhandel. Daar is ooreengekom dat hulle vandag ʼn vergadering met hulle gaan hê en die situasie is binne so twee uur opgelos en die N12 is weer heropen,” het Myburgh gesê.

Sy het gesê dié betoging hou egter nie verband met eise dat premier Supra Mahumapelo moet bedank soos die rede vir die betoging in Mahikeng is nie. “Daar is ʼn konstruksieprojek deur die munisipaliteit begin en hulle het reeds begin om rioolinfrastruktuur in die gebied aan te lê. Die inwoners daar wat in informele behuising bly, is gevra om te verhuis en hulle moes vandag begin trek, maar hulle wil nie. Dit is waaroor die ongelukkigheid gaan,” het sy verduidelik.

Gewelddadige betogings woed in Mahikeng in Noordwes (19 April 2018). Foto: ANA

Betogers in Mahikeng eis dat Mahumapelo uit sy pos as premier moet bedank. Hierdie eis spruit uit ongelukkigheid rondom swak gesondheidsorg in die provinsie, ʼn gebrek aan behoorlike dienslewering en bewerings dat Mahumapelo se kantoor by wanadministrasie, bedrog en korrupsie van sowat R160 miljoen betrokke is.

Maroela Media het vroeër berig daar sou vroeër vandeesweek in die provinsiale wetgewer oor ʼn mosie van wantroue in Mahumapelo gedebatteer word, maar dié mosie is ter elfder ure uitgestel nadat die EFF hom tot die hof gewend en versoek het dat die mosie met ʼn geheime stemming moet plaasvind.

Mahumapelo het intussen Donderdag dr. Thabo Lekalakala, hoof van die provinsiale departement van gesondheid, geskors hangende ʼn ondersoek na bewerings van finansiële onreëlmatighede in die departement. Die ondersoek hou verband met ʼn voorlopige verslag na bewerings van wangedrag teen Lekalakala oor die toekenning van ʼn kontrak aan Mediosa, wat bande met die omstrede Gupta-familie het.

Lekalakala se skorsing is deur die ANC in Noordwes verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Al ·

Al hang daar ñ kriminele wolk om die Noordwes premier, klink dit vir my soos EFF politiekery.

Muis ·

HOEKOM moet die onskuldige burgers wat WEL wetsgehoorsaam is en WEL hulle belasting betaal altyd deur hierdie betogers ontwrig word? Hoekom moet onskuldige mense altyd aan die pen ry en hulle eiendom vernietig word? Dit maak nie sin nie, hoekom gaan vat hulle nie die outoriteit aan waarteen hulle betoog nie??? Hoekom as jy vir Elektrisiteit of Water of Huise betoog brand jy ANDER mense se huise af en steek jy ANDER mense se voertuie aan die brand?? As jy teen Supra betoog, gaan vat vir SUPRA aan .. gaan lewer ‘n petisie of versoekskrif of watookal by SY huis af … Sal dit nooit ooit verstaan nie .. JULLE BLY ANC stem maar bly betoog teen die ANC. Ek ruik ook ‘n EFF rot hier.

marous ·

Rome het ook gebrand en die keiser het dit ook ontken …..

Justice ·

Enige rede hetsy reg of verkeerd wat kan lei vir hulle om te mag toi-toi plunder en brand totdat alles vernietig is..

jaco ·

Die enigste goeie ding tot dusver is dat buitelanders, seker maar meestal onwettige immigrante, se winkels ook geplunder is.

Gerrit ·

Misdaad en misdadigers was nog nooit n goeie ding nie betoging is een ding branstigting en diefstal is krimineel van aard en ongelukkig het sa nie polisie om dit te bekamp nie
??

Ding ·

Jaco, dit is geensins ‘n goeie ding dat buitelanders se winkels geplunder is nie. Wat verkeerd is, is verkeerd!

Pieter ·

Cr het mos ondervinding na die marikana insedent was daar nog nooit weer n geweldadige staking by enige my …laat mens dink
??

toitoi ·

Die is die eenigste manier om jou probleeme op te los in sa,
hoe gan ons nie moet riot om ons vryheid te vat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.