Siviele eis oorweeg ná Fochville-ma se dood

Natasha Wheeler Barnard. (Foto: Verskaf)

Die familie van die vermoorde Natasha Wheeler Barnard (33) sê hulle sal tot die uithoeke van die aarde gaan om te baklei vir die geregtigheid van hul oorlede dogter en haar twee minderjarige kinders wat nou sonder ʼn ma gelaat is.

Die vyf beskuldigdes wat in verband met Barnard se moord in hegtenis geneem is, is Dinsdag op borgtog vrygelaat. Die familie beoog nou om ʼn siviele eis teen hulle in te stel en het reeds ʼn advokaat vir dié doel betrek.

Volgens Barnard se pa, John Wheeler, moet die kinders se skoolgeld betaal word en hulle het ander behoeftes waarna omgesien moet word.

“Ons sal tot die hoogste hof veg vir Natasha se twee kinders wat nou weerloos agtergelaat is. Hulle is die voorreg ontneem om ʼn ma te hê,” het Wheeler benadruk.

Die kinders, onderskeidelik 13 en tien jaar oud, is tans onder die sorg van Barnard se ma, Frieda Venter, geplaas. Hulle gaan skool op Fochville.

Barnard het einde Januarie van Pretoria na Fochville verhuis, juis om naby haar twee kinders te wees.

Volgens Venter weet die kinders wat gebeur het, en sukkel om te aanvaar dat hul ma vir ewig weg is. “Natasha se dood is baie erg vir die kinders. Hulle cope nie. Hulle kry tans berading,” het Venter vertel.

Barnard is na bewering op 3 Maart in The Boule Vard-restauarant en -kroeg in Fochville aangerand en vroeg die volgende oggend by haar ma se huis afgelaai, waar paramedici haar later dood verklaar het.

The Boule Vard-restaurant en kroeg [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

Die ondersoekbeampte, AO Kitty Fourie, het in die hof getuig dat Barnard trauma aan haar nek en ruggraat gehad het.

Maryna Doyle (37), haar kêrel, Sidney Scheepers (41), Cecilia Storbeck (23), Twane Wienand (31) en Rudolf Pretorius (23) het Maandag hul aansoeke om borgtog ingedien en dié is Dinsdag toegestaan. Doyle, Scheepers, Storbeck en Wienand is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat, terwyl Pretorius se borgtog op R10 000 vasgestel is.

Die familie het ná die borgtogverrigtinge hul ontevredenheid oor die uitspraak met Maroela Media gedeel.

Natasha Barnard se pa, John Wheeler, het emosioneel geraak toe hy vertel hoe die borgtog ʼn onreg teenoor Barnard se kinders is wat sonder ʼn ma moet voortgaan met hul lewe. [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

“Ons is baie teleurgesteld oor die uitspraak. Die reg het nie sy gang gegaan soos dit moet nie. Daar was baie bewyse teen die beskuldigdes wat oorgesien is. Nou wonder ons wie die volgende slagoffer gaan wees,” het Venter vertel.

Wheeler het emosioneel geraak toe hy vertel hoe die borgtog ʼn onreg teenoor Barnard se kinders is wat sonder ʼn ma moet voortgaan met hul lewe.

Barnard se suster, Chantell, sê sy ervaar ʼn onrustigheid oor die feit dat die beskuldigdes nou op vrye voet is. “Ek is bang hulle kom dalk nou vir een van ons,” het sy buite die hof gesê.

Die beskuldigdes Maandag by die landdroshof in Fochville. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Swaar om te aanvaar

Die trane sit nog vlak in hul oë wanneer Barnard se ouers oor hul geliefde “blondekopdogter” praat. Hulle onthou nog elke klein detail van die aand van Barnard se moord.

Ná paramedici Barnard by Venter se huis dood verklaar het, het Wheeler ook na die huis gegaan. Wheeler vertel dat Barnard se lewelose liggaam toe al onder ʼn foeliekombers gelê het. “Dit het onwerklik gevoel om my dogter so te sien,” vertel Wheeler.

Die ouerpaar sukkel ook om Barnard se dood te aanvaar en hoewel hulle vertrou geregtigheid sal geskied, sukkel hulle om berusting te kry.

“Dit voel asof sy iewers is en weer gaan terugkom huis toe,” sê Venter. “Dit is vir my bitter swaar om te dink ek gaan my kind nooit weer sien nie,” sê Wheeler.

Wheeler vertel die manier hoe sy dogter weggeneem is, spook saans by hom. “Ek sal die manier hoe my kind geslaan is en gely het nooit aanvaar nie. Dit raak te veel in die aande wanneer ek sit en dink dat my kind nie meer by my is nie,” sê hy.

Natasha Wheeler Barnard se ma, Frieda, suster, Chantell, en pa, John. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Volgens Venter en Wheeler was Natasha ʼn vrolike en opgewekte mens wat uit haar pad sou gaan om iemand anders te help.

Wheeler sê hy mis sy dogter se daaglikse boodskappe en oproepe, terwyl Venter nou die leemte in haar huis duidelik voel. “Sy sou elke aand vir my sê: ‘Nag, Mamma, lekker slaap. Ek is lief vir jou.’ Nou is haar stem stil.”

Doyle, Pretorius en Wienand word voorlopig aangekla van moord. Al vyf word ook aangekla van dwarsboming van die gereg en dat hulle voordeel uit die moord getrek het. Al vyf beskuldigdes ontken egter skuld.

Die saak sal na verwagting op 31 Mei voortgaan.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.