Siviele saak kom dalk teen Eskom ná werker se moord

Familielede van Thembisile Yende buite die Springs-landdroshof. Foto: Lindi Masinga/ANA

Die familie van Thembisile Yende, die werknemer van Eskom wie se ontbinde liggaam in Mei vanjaar in ʼn ongebruikte kantoor van Eskom se Pieterboth-substasie in Springs aangetref is, oorweeg om ʼn siviele saak teen die kragvoorsiener aanhangig te maak.

Yende se liggaam is gevind meer as ʼn week nadat haar familie haar as vermis aangemeld het. Sy is na bewering vermoor omdat daar gevrees is dat sy inligting oor ʼn koperkabeldiefstal-sindikaat sou bekendmaak.

“As familie oorweeg ons om ʼn saak teen Eskom aanhangig te maak omdat Thembisile ʼn kind gehad het,” het Mboneni Yende, Thembisile se broer, Woensdag gesê.

David Ngwenya (43), ʼn Eskom-tegnikus, is in Junie in verband met Yende se moord in hegtenis geneem en het Woensdag weer in die Springs-landdroshof verskyn. Zola Majavu, Ngwenya se regsverteenwoordiger, het tydens die verrigtinge aan die hof gesê hy is ingelig dat Ngwenya se DNS-resultate in Oktober vrygestel is. Majavu het volgehou dat die DNS-verslag Ngwenya se onskuld sal bewys.

Thembisile Yende

“Ek het beeldmateriaal in my besit en ʼn DNS-verslag van Oktober, en daar is nog die een verslag wat uitstaande is en dit sal later bekendgemaak word. Mense gaan verbaas wees wanneer die waarheid uitkom,” het Majavu gesê nadat die hof verdaag het.

Die staat het vroeër gesê hulle kan nie bevestig of Ngwenya deur DNS met Yende se moord verbind word nie, aangesien daar baie monsters in die betrokke saak is en hulle eers teen die einde van die jaar die uitslae van die DNS-toetse aan die verdediging sal kan oorhandig.

Majavu het gesê ʼn borgtogaansoek gegrond op nuwe feite sal voor die hof gebring word.

Die staat het bygevoeg sodra die ondersoek na die moord afgehandel is, sal die saak na die hooggeregshof oorgeplaas word. Die saak is tot 31 Januarie uitgestel vir verdere ondersoek.

Phakamile Hlubi, woordvoerder van die National Union of Metalworkers of South Africa (NUMSA), het buite die hof gesê Numsa is bekommerd oor die veiligheid van werknemers omdat “mense weet dat Thembisile Yende se dood verdag was”.

“Numsa het die departement van arbeid versoek om ondersoek oor die saak in te stel sodat dié wat betrokke is gevind en vervolg kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mammon ·

Oh my word really? Gaan alles oor geld? Kan haar lewe met GELD Gekoop word? Het ESKOM haar vermoor of ‘n mede-werker met wie sy ‘n vriendskapsverhouding gehad het? In SA is mense net happy as hulle geld kan kry, maak nie saak hoe die arme vrou gely het nie, dis fine, gee geld en ons ‘replace’ al haar memories.! As ek iemand doodmaak by die werk hoe op aarde kan die WERK aanspreeklikheid daarvoor aanvaar?

Johan ·

Het eskom haar vermoor? verstaan nie mooi as iemand by my werksplek deur n mese werker vermoor word is ek nie verantwoordelik

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.