Siya, die ‘Faf’-broekie en Gerard Butler

(Foto: Twitter)

Dit is nie net die Springbokke se oorwinning oor Skotland die afgelope naweek wat die nuus gehaal het nie.

Springbok-kaptein, Siya Kolisi, het om twee ander redes ook nuus gemaak en foto’s hiervan versprei steeds soos ’n veldbrand op sosiale media.

Kolisi het na Saterdag se wedstryd op Murrayfield, wat die Springbokke met 30 – 15 gewen het, oor ’n versperring gespring en sy handtekening op ’n ondersteuner se Speedo gemaak.

Die Speedo, in die kleure van die Suid-Afrikaanse vlag, herinner aan dieselfde broekie wat Faf de Klerk na die Springbokke se Wêreldbekeroorwinning gedra het.

Op video’s en foto’s kan gesien word hoe Kolisi en die ondersteuner mekaar omhels en Kolisi die Speedo teken en die ondersteuner ’n raps op die boud gee voor hulle weer druk en Kolisi dan onder luide toejuiging wegdraf.

Die ondersteuner is intussen as Jack Denton, oorspronklik van Zimbabwe, geïdentifiseer. Volgens EWN het Denton in Suid-Afrika skoolgegaan en woon hy nou in Edinburgh.

Denton het aan EWN gesê hy sal graag ook De Klerk se handtekening op die Speedo wil kry aangesien dit Faf is wat dié Speedo bekend gemaak het.

Kolisi het egter ook om ’n ander rede aandag getrek – die keer oor ’n foto van hom saam met die Skotse akteur Gerard Butler. Kolisi het op sy Facebook-blad foto’s van hom en Butler gedeel.

Hy het Butler bedank omdat hy die wedstryd bygewoon het op sy [Butler] se verjaarsdag. In een van die foto’s staar Butler Kolisi met bewondering aan terwyl hy met ’n Springbok-trui in sy hand staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Arno ·

Ons kort meer nuus berigte soos dié in Suid Afrika wat mense laat glimlag. Dit het sommer my dag gemaak. Dis die Suid Afrika wat ek wil onthou terwyl ek hier in Nederland sit.

piet ·

Vinnig besig om een van ons beste en gewildste kapteins ooit te word. Waarskynlik reeds die gewildste. What a player, what a captain.

Aubrey ·

Dis mense soos hy wat ons ouens se moed vir toekoms oplig. Wel gedaan Groot Man..jy is n yster.

Madeleine ·

My seun lees nou n boek van ons kaptein se lewe. Waarlik merkwaardig om te kon kom waar hy is nou! Baie trots op Kolisi!!

SjN ·

Goeie sportmangees deur Kolosi, hoekom word daar niks gese op MM oor die sokkerspan wat weereens nie die paal gehaal het nie?

Belinda ·

Dis nice om te sien dat Siya hom nie so hoogmoedig hou nie. Hy is n baie nice ou. Dankie Siya dat jy ons naam nog hoog dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.