Skaakafrigter al vyf maande vermis

vermis Stan Davies

Stan Davies Foto: Facebook

Die soektog na Stan Davies (30), ʼn skaakafrigter van Johannesburg wat sedert Desember vermis word, gaan steeds onverpoosd voort.

Dessie Rechner, stigter en direkteur van Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste mense op te spoor, het Woensdag aan Maroela Media gesê dit is vreemd dat daar sedert Davies se verdwyning geen nuwe inligting na vore gekom het nie.

“Daar is ʼn klomp goed wat net nie reg is nie. Hoekom het ons nog geen nuwe leidrade ontvang nie? Ek is nie tevrede met hierdie saak nie en ons sal so gou as moontlik met die ondersoekbeampte vergader om te hoor watter nuwe inligting tot dusver ingevorder is.”

Maroela Media het in Desember berig Stan het spoorloos verdwyn kort nadat hy vir Laura Irving, sy vriendin en woonstelmaat, ʼn boodskap gestuur het om te sê hy vermoed hy word agtervolg.

Hy het met die Gautrain van Rosebank na Hatfield gery om by die Universiteit van Pretoria te gaan navraag doen oor moontlike verdere studies. Sy foon se battery was pap en Irving het gevra dat hy haar laat weet sodra hy veilig by die universiteit is.

“Dit was die laaste keer wat ek van hom gehoor het. Ons weet nie of hy met iemand daar ʼn afspraak gehad het en of hy ooit daar uitgekom het nie,” het sy destyds gesê.

Marlene Davies, die vermiste man se ma, het Woensdag aan Maroela Media gesê sy is rasend van bekommernis oor haar seun. “Ek dink aan hom as ek die oggend opstaan en ek dink aan hom as ek die aand gaan slaap,” het ʼn emosionele Marlene gesê. “Ek wil net weet wat van hom geword het. Al moet ek dan ook uitvind dat hy dood is, sal ek ten minste antwoorde op al hierdie vrae hê.”

Die polisie kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

Jason Stanleigh (Stan) Davies het kort, bruin hare en ligte groen oë en is ongeveer 1.7 m lank. Enigiemand met inligting kan die polisie skakel by 08600 10111 of Pink Ladies by 072 214 7439.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SNEL ·

Vreeslik om te dink wat die arme man se familie moet deurmaak met al die vrae. Baie baie sterkte, hoop regtig dinge beweeg vir julle vinnig na n punt toe.

CHRISTA ·

Ek hoop en bid hulle spoor hom veilig op – liewer weg agv geheuverlies as wat hulle sy lewelose liggaam êrens kry.

Hardus ·

Op 3rd Degree so paar jaar terug was daar n ou van Bloemfontein – something Kruger wat mense opspoor as hy net van hulle hare kan kry. Hy sit dit in sy geheime tassie wat hy vir niemand wil wys nie en hy spoor hulle op. Hulle het dit op tv met n baba getoets en dit het gewerk. So as die ma van die vermiste seun hierdie dalk lees, gaan op google, kry die ou se naam en nommer of kontak die 3rd degree mense. Dis die enigste antwoord wat ek kan aan dink…

Johann Fouche ·

Die ou is eintlik Danie Kriegel werksaam te SUT Bloemfontein.

Sharlene ·

Ekt jare oorkant hulle gebly toe ons nog op skool was. Dit is so erg om te weet dat die dinge met mense gebeur wat ons ken. Sy arme ma pa en suster is wonderluke mense en ek kan glo is rasend van bekommernis. Ek hoop regtig hul kam stan opspoor. Ek bid vir die Davies gesin. Xxx

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.