ʼn Skaakafrigter van Johannesburg het vandeesweek spoorloos verdwyn kort nadat hy vir ʼn vriendin ʼn boodskap gestuur het om te sê hy vermoed hy word agtervolg.
Jason Stanleigh (Stan) Davies, ʼn 30-jarige skaakafrigter, het Dinsdagmiddag met die Gautrain van Rosebank na Hatfield gery om by die Universiteit van Pretoria te gaan navraag doen oor moontlike verdere studies.
Volgens Laura Irving, wat met Davies ʼn huis in Orchards deel, het Davies Dinsdag om 12:36 vir haar ʼn Whatsapp-boodskap gestuur en gesê hy vermoed hy word agtervolg. Hy was toe reeds by die Hatfield-stasie. “Hy het gesê sy foon se battery is pap, en dat hy my sou laat weet as hy veilig by die universiteit is. Dit was die laaste keer wat ek van hom gehoor het. Ons weet nie of hy daar met iemand spesifiek ʼn afspraak gehad het en of hy ooit daar uitgekom het nie.”
Davies was vyf jaar gelede ʼn onderwysstudent en wou uitvind hoe hy te werk moet gaan om verder te studeer. Sy foon is sedert sy verdwyning afgeskakel. Sy familie, wat in die Kaap woon, sê hulle het ook nog niks van hom verneem nie.
“Ons is almal rasend van bekommernis,” het Irving gesê.
Irving het ʼn vermistepersone-saak by die polisie aanhangig gemaak. Ao. Dave Miller, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die saak ondersoek word. “Die Brooklyn-polisie is besig om leidrade op te volg in samewerking met die Sandton-polisie,” het Miller gesê. “Sy inligting gaan binnekort deur verskeie instansies en polisiestasies versprei word.”
Davies het kort, bruin hare en ligte groen oë en is ongeveer 1.7 m lank. Enigiemand met inligting kan die polisie skakel by 08600 10111.