Skade by inkomstediens ‘veel erger’ as wat Nugent-verslag aandui

Edward Kieswetter, hoof van die SAID. (Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Die skade wat by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) aangerig is terwyl die organisasie polities gekorrupteer was, is veel erger as wat die Nugent-verslag aandui, het Edward Kieswetter, SAID-hoof, Woensdag gesê.

Kieswetter het in die parlement vrae van die staande komitee oor finansies beantwoord. Hy en ander senior amptenare het die parlement ook op hoogte gebring van die SAID se jaarverslag. Dit wys ʼn inkomsteverhalingstekort van R14,5 miljard vir die boekjaar wat op 30 Maart geëindig het.

Volgens Kieswetter is die werklike omvang van die trauma wat werkers ervaar het in die tydperk wat die Nugent-kommissie moes ondersoek, bykans onmoontlik om te bepaal. Hy het gesê dit het eers behoorlik duidelik geword nadat hy sélf met amptenare daaroor begin praat het.

Die Nugent-kommissie het ondersoek ingestel na bestuursprobleme by die inkomstediens en is gelei deur afgetrede regter Robert Nugent. Sy verslag het reeds tot verskeie skorsings en selfs die afdanking van die vorige SAID-hoof, Tom Moyane, gelei.

“Dit is vir my sleg om te sê dat die omvang van die skade veel dieper is as wat die Nugent-kommissie bevind het. Papier is geduldig,” het Kieswetter gesê.

“As jy hulle in die oë kyk en na amptenare se verhale luister, besef jy die volle omvang van die trauma.”

Kieswetter het gesê die inkomstediens het mense se vertroue en sy vermoë om “bekwame mense” te lok, verloor.

Kieswetter het met 92 werkers in die Wes-Kaap vergader wat ʼn klas-aksie aanhangig gemaak het in reaksie op advertensies vir vakante poste wat net vir swart aansoekers, en in sommige gevalle net swart vroue, beskikbaar is.

“Dit is ongrondwetlik. Dus het ons nou ʼn klas-aksie deur 92 werkers op hande. En ons het werklik nie ʼn sterk saak nie.

“In nog ʼn geval het die SAID-leierskap vasgestel dat werkers geïntimideer word omdat hulle oudits doen van mense met sogenaamde politieke beskerming.”

Die Nugent-kommissie het vroeër bevind daar was ʼn beduidende gebrek aan integriteit en bestuur by die inkomstediens, ʼn doelbewuste aftakeling van bestuur, ʼn wegkalwing van vaardighede, asook ʼn verbrokkeling in verhoudings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Roets ·

Hierdie tendens is te bespeur by elke staatsinstelling / departement. Die vermindering in inkomste, nou ja as die betalende mense die land uitgejaag word en die ekonomie nie groei nie. Nou juis nie moeilik om te verstaan nie. Die skade is groter as wat julle dink. Kanselleer maar Zuma se pensioen en ander voordele, hy verdien nie sulke voordele nie na sy leierskap nie.

Willie ·

Roets ek stem volmondig saam met jou!
Ongelukkig gaan sy uitspraak nie ñ duit maak in die volgehoue transformasie proses wat lei tot algehele verval van die SA ekonomie nie!

Irma ·

Skreiend. Nou lê die NHI voor waarvoor hulle natuurlik hul tande slyp, want geld onregmatig bekom het mos die reg van ‘n sekere groepering in SA geword. Dit lyk nie vir my of hierdie land weer sy kop sal kan optel nie. Dit is sooooo hartseer

Tammy ·

Ja en nou moet die landsburgers maar net nog meer betaal. Wanneer gaan die mense wat betrokke is by staatskaping en korrupsie tronk toe? Of word hulle beskerm vir stemdag? Is daar iemand slim genoeg om dit vir my te antwoord, want ek is hopeloos te dom!! Waar is Mnr Ramaphosa ons geagte president wanneer al hierdie skandes uitgeblaker word? Of gooi hy n blinde oog en dowe oor??????? Wanneer gaan hy sy staal wys en optree teen hierdie mense ? Antwoord asseblief Mnr Ramapohosa ons sal graag wil hoor!!!

Ook Dom ·

Wees geduldig Tammy, Die oumense het altyd gese: Die wiele van die gereg (geregtigheid) draai stadig maar seker. Ons moet net aanhou glo dat die agbare comrade Ramaphosa n plan het wat ten goede van die land sal werk, al neem dit n bietjie tyd om als deeglik te doen.

Pieter ·

Ou cr sal nie n woord se nie hy was dan adj pres hy het presies geweet wat zuma en sy pelle doen hy het hom blind gehou hy is nou nog blind klomp terroriste

Petrus ·

Ou Toppie stem saam. Die vorige baas van Sars het met intrapslag by Sars gesê hy gaan pensioenaisse afslag. So mnr Kieswetter die ou mense is net so getraumatiseer as jou werkers. Om jou belasting te gaan betaal terwyl daar by Zondo vertel is hoe ministers sakke vol geld ontvang het – belastingvry. Ons is magteloos!
Dan word daar nog voorgestel dat ons belasting reserwe ook nog in die trog gaan beland.
Belaglik.

Koos de Meyer. ·

Ek wonder of Zuma en al die vorige presidente op hulle miljoene belasting betaal. Volgens die media kry hulle meer as 3 miljoen plus ‘n klomp ander voordele.

Hoe vinniger ·

Hoe vinniger die hool-staat en hool-rereging platval hoe beter. Enige bleeksiel wat die staat/regering (wil) ondersteun is ‘n verraaier.

Pottie ·

Al hoe dit gaan gebeur is as ons blankes gaan standpunt in neem en ons slap g……t houdings los die ANC mors met ons blankes want ons laat dit toe

Vra maar net ·

Mnr Kieswetter wat se planne het julle in plek om te begin, om die Taxi eienaars belasting aanspreekbaar en belasting verantwoordbaar, te begin hou? So ook al die Chinese winkels wat soos paddastoele opskiet?

Tania ·

Gaan kyk maar by elke SARS kantoor is daar cash & carry winkels daar naby wat besit word deur buitelanders, en glo my hulle is nie op SARS se inkomstelyste nie, want meeste is onwettig in die land. Hulle gebruik ons paaie en gesondheidsorg, maar betaal niks belasting nie. En SARS doen nooit inspeksies daar nie.

Marix ·

Wanneer die woord “politici” in ‘n gesprek genoem word, wonder ek altyd waarom dit so slegte reuk afgee. Waar “politici by betrokke is, daar sal jy allerhande onderduimsheid en oneerlikheid kry.

Sonneblom ·

Tania, met alle respek hoe seker is jy van jou feite? Mense (ek sê nie jy nie) is soms baie vinnig om aantygings te maak sonder dat hulle oor die werklike feite beskik. Daar is reeds ‘n duidelike groot verskil by SAID vandat Mojane en sy travante nie meer aan die stuur is nie. Ek stem saam met Oom Dom, die wiel draai stadig maar seker.

Gert van Wierdapark ·

My vraag is:”Wat gaan gedoen word aan die voormalige hoof van SARS, Tom Monyane, wat volgens getuienis voor die Zondo Kommissie, ONGELOOFLIK BAIE SKADE aan die SA Ekonomie aan gerig het, saam met sy kader-tjommies???

Ex SARS werker ·

Ek self het vir 20 jaar vir SARS gewerk en was altyd baie trots daarop.
Maar ek het bedank sonder dat ek n ander pos beskikbaar gehad het, want ek kon dit nie langer daar uithou nie. Nou kry ek nie werk jie, want hoe antwoord jy die vraag waarom jy bedank het sonder om bitter te klink?
Ek weet persoonlik van meer as 25 baie bekwame mense wat uit SARS bedank het.
Die skade wat daar verrig is het lewens verwoes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.