Foto’s: Skadeberaming gedoen ná haelstorm Mpumalanga tref

Die hael het na bewering vensters van geboue uitgeslaan. Hierdie foto is in Mbombela geneem. Foto: Twitter via @sjabane

ʼn Reusehaelstorm het dele van Mpumalanga Sondag getref met haelkorrels byna so groot soos gholfballe wat na bewering skade aan talle voertuie en huise veroorsaak het.

Die storm het grootliks oor Skukuza en Mbombela gewoed, asook in gebiede tussen Komatipoort en Malelane.

Sosiale media is sedert gister aan die gons soos inwoners van Mpumalanga foto’s deel van die hael wat in hul gebied geval het. Daar is foto’s gedeel van mense wat die reusehaelkorrels vashou, asook video’s van die hael wat hard neerslaan. Mense het ook foto’s gedeel van vensters van geboue wat glo deur die hael uitgeslaan is en voertuie wat beskadig is.

Lefentse Nkosi, woordvoerder van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake in Mpumalanga, het aan Maroela Media gesê ʼn rampbestuurvergadering is tans in die provinsie aan die gang om die omvang van die skade te bepaal. Daar word ook gewag op ʼn assesseringsverslag voordat die departement ʼn beter idee sal hê van hoeveel mense deur die storm geraak is.

Sy het gesê die departement sal later ʼn verklaring hieroor uitreik.

Hael wat in Skukuza in Mpumalanga geval het (27 Mei 2018). Foto: Lida Pressly via @ReenvalSA (Twitter)

Intussen het Bransby Bulo, ʼn voorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) aan Maroela Media gesê daar is nie gister ʼn waarskuwing uitgereik voor die haelstorm Mpumalanga getref het nie, aangesien die storm onverwags was.

Bulo het gesê meer as 26 mm reën het vanoggend nog in die Skukuza-gebied geval, terwyl Mbombela slegs 2 mm reënval gekry het. Volgens die weerdiens word bewolkte reën vir die res van die dag oor die Laeveld verwag, met die moontlikheid van nog reënval môre.

Bulo het gesê die weerdiens monitor voortdurend die weerstoestande en sal ʼn waarskuwing uitreik indien nog storms oor die Laeveld verwag word.

Hier is van die foto’s wat op sosiale media gedeel is:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mbombela ·

‘Mbombela’ – seker vernoem na die haelbomme wat daar geval het. Is dit naby ‘Elders’ waarna weermense so graag verwys? Nogtans ‘n baie mooi naam . . .

Bok Bok ·

Selfs die natuur getuig daarvan.
Ons lewe in die eindtyd.
As dit moontlik is moet ons, ons maar regruk.!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.