Skadelike sprinkane floreer na goeie reën

Bruinsprinkane los bittermin groenigheid op hulle verwoestingspad agter. Foto: Pixabay

Die boere in die Sentraal- en Bo-Karoo kon nog nie eers behoorlike vloedskade-opnames maak nie, of die volgende krisis is op hande.

Die mildelike reën na die lang droogte het juis veroorsaak dat groot getalle bruinsprinkaaneiers uitgebroei het, wat in ʼn kort tydperk enorme skade kan aanrig.

“Ek het al gesien hoe ’n twee meter hoë mielieplant geëet word dat net ’n stok oorbly wat glad nie meer kan fotosinteer nie. Kleiner mielies vreet hulle dat daar net ʼn nat kol oorbly,” sê Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap.

Jansen sê plaagbestuurspanne is tans druk besig om swerms te spuit in groot dele van die Noord-Kaap. “Die stelsel om sprinkaanplae te bekamp is gelukkig in plek. Spuitbeamptes is deur die departement landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling aangestel, opgelei en van toerusting en gif voorsien.

“Daar is nog ʼn paar administratiewe kwessies wat haak, soos dat die uitbetaling van die mense se dag- en brandstoftariewe agterstallig is, maar ons georganiseerde landbou sit druk op hulle. Die ander uitdaging is ook om verdere druk op die departement te sit om betyds genoeg gif te bestel.”

Spuitbeamptes is tans in die streke om Steynsburg, Hopetown, Carnarvon, Loxton, Prieska, Victoria-Wes, Griekwastad, Vosburg, Upington, Keimoes en tot so ver noord as die Kalahari ontplooi.

Sprinkaaneiers kan vir ʼn lang droogtetydperk dormant wees en na goeie reën in groot getalle uitbroei sodra die veld voedsel in oorvloed bied. Die eiers kan ongehinderd in afgeleë plekke, wat nie noukeurig gemonitor word nie, soos groot veeplase, uitbroei en tot die voetgangerstadium ontwikkel. Sodra die sprinkane volwasse word en die vlieërstadium bereik, is dit egter die sappige, groen gewasse in besproeiingsgebiede wat onder geweldige risiko verkeer. Hulle rig ook baie skade aan weidingsveld aan, veral in gebiede met ’n swak gehalte veld waar die sprinkane in direkte kompetisie met skape vir voer is.

Een van ‘n boer se grootste vrese is pasuitgebroeide sprinkane, oftewel voetgangers, tussen sy mielies.

Die aanvanklike uitbreking het einde September verlede jaar in die Oos-Kaap en die oostelike en suidoostelike Karoo begin. Soos die sprinkane se manier is, trek hulle altyd noord en het hulle stelselmatig in die Vrystaat en in die Noord-Karoo inbeweeg. Hulle is nou op pad Namibië toe.

Die grootste bedreiging is nou vir die graanboere suid van die Oranje wie se gewasse in ʼn baie kwesbare stadium is en wat in die ontsnapte, aankomende swerms se pad boer.

Enige persoon word versoek om uitbrekings so spoedig moontlik by hul distrikslandbou-unies, plaaslike distriksprinkaanbeampte of by die departement se sprinkaangifdepots by De Aar en Upington aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Moet seker wees Steynsburg, Steynrus is in die Vrystaat.

Jan

Hulle beskerm die sprinkane deur gif te spuit want dan roei hulle ook die natuurlike vyande uit. Dan floreer die insekte sowel as die kamerade wat die gifstowwe verkoop.