Skadevergoeding ná Afrikaanse borgtogaansoek geweier word

Argieffoto

Argieffoto

‘n Landdros moet skadevergoeding van R115 000 plus rente uit haar eie sak betaal nadat sy geweier het om ‘n veroordeelde bedrieër se borgtogaansoek aan te hoor omdat dit in Afrikaans was, het Rapport Sondag berig.

Regter Cynthia Pretorius het in die Pretoriase hooggeregshof bevind landdros Hasina Habib se oneerlikheid was “blatant” tydens Annalize du Plessis (43) se verhoor in 2009 in die Johannesburgse handelsmisdaadhof, het die Afrikaanse koerant berig.

Pretorius het bevind indien Habib haar werk behoorlik gedoen het, soos wat daar van haar verwag is, sou sy Du Plessis se borgtogaansoek aangehoor het. Du Plessis is in 2009 in hegtenis geneem in verband met bedrog van R5.2 miljoen. Sy het op 3 April voor Habib verskyn voordat die aansoek om borgtog tot 9 April uitgestel is. Haar prokureur het op daardie dag aan die hof gesê haar kliënt se verklaring is in Afrikaans, maar dat dit vir Habib vertaal kan word.

Habib het glo geweier en gesê dit is ‘n Engelse hof en het ook aan die prokureur gesê sy is “arrogant”. Habib het daarna geweier om na die prokureur te luister, aangesien sy glo ontevrede was met haar kleredrag. Volgens die berig het sy boonop ook ‘n aansoek van Du Plessis geïgnoreer om haar eie borgtogaansoek voor te hou en die saak is tot 14 April uitgestel.

Pretorius het bevind dat Habib nie getrou was aan die eed wat sy as landdros afgelê het nie en sy het doelbewus veroorsaak dat Du Plessis die Paasnaweek in die tronk moes spandeer.

Pretorius het ook beslis dat die minister van justisie en korrektiewe dienste Du Plessis R30 000 skadevergoeding moet betaal.

Habib se aansoek om verlof tot appèl teen Pretorius se uitspraak is afgekeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sjert ·

‘n Ligstraaltjie van geregtigheid in die donker gange van ons regstelsel?

Erich Goosen ·

Baie gepaste vonnis, regter Pretorius, al het u ‘n tyd gelede gese Engels behoort die enigste voertaal in howe tre wees. Magsbehepte laddroste en regters wat deur hul optrede aangeklaagdes te na kom moet dit aan hul sakke voel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.