Skadevergoeding ná kleuter in puttoilet verdrink

Michael Komape (5).

Die hof het die departement van basiese onderwys gelas om derduisende rande uit te betaal aan familielede van ʼn vyfjarige seun wat in 2014 in ʼn puttoilet by die skool verdrink het.

Die organisasie Section27 sê hy hoop die skadevergoeding wat ingevolge ʼn appèlhofbeslissing aan Michael Komape se familie van Limpopo betaal moet word, bring ten minste ʼn mate van waardigheid en genesing vir sy familie.

Die appèlhof het vandeesweek R1,4 miljoen in skadevergoeding aan die familie toegestaan, asook die koste van toekomstige mediese uitgawes (R6 000) vir elke lid van die gesin. “Dit is ʼn oorwinning vir die Komape-familie omdat skadevergoeding vir emosionele skok en lyding verlede jaar deur die Polokwane-hooggeregshof van die hand gewys is,” het die organisasie gesê.

Michael is in Januarie 2014 dood nadat hy in ʼn puttoilet by ʼn skool in Limpopo verdrink het. Die hof het vroeër gehoor die seuntjie se liggaam is eers ná sowat vier uur uit die put verwyder.

Sy ma, Rosina, wat haar na die skool gehaas het nadat sy gehoor het haar kind word vermis, het die seuntjie in die puttoilet, met sy een arm wat uit die menslike afval na bo gestrek het, gesien.

Sy pa, Maloti, het terselfdertyd probeer foto’s neem as bewyse van wat met sy kind gebeur het, maar sy foon is weggeneem en die foto’s uitgewis.

ʼn Siviele eis is die volgende jaar by die hooggeregshof in Polokwane teen die onderwysdepartement ingedien en die proses het langer as vyf jaar geduur.

“Dit was ʼn geweldig emosionele en moeilike tyd vir die Komape-familie,” het die organisasie gesê.

Regter Eric Leach sê in die uitspraak pleidooie dat iets aan die gehawende toiletstrukture gedoen word, het jare lank op dowe ore geval. Destyds sou dit net sowat R500 per toilet kos om ʼn stewige struktuur op te rig.

James en Rosina Komape, Michael se ouers. (Foto: Ciaran Ryan/GroundUp)

Volgens Leach is die gesin se emosionele lyding boonop vererger deur die hardvogtige houding van die onderwysowerhede ná die voorval. Klein Michael se pa is verbied om sy liggaam uit die puttoilet te haal en is meegedeel dat “dit ieder geval reeds te laat is”. Die polisie het ook sy broer, Lucas, verbied om na sy liggaam te kyk.

Die skool het nie navraag gedoen na hoe dit met die gesin gaan nie en die familie het die skikkingsbedrag wat die departement jare ná die voorval aangebied het, as ʼn belediging beskou.

Die regter het gesê dit is ʼn moeilike taak om ʼn skadevergoedingsbedrag vas te stel, “omdat geen geldelike vergoeding kan vergoed vir hul verlies nie”.

Michael se ouers en oudste broer en suster is eindelik skadevergoeding van R350 000 elk toegestaan, terwyl sy drie jonger sibbe skadevergoeding van R100 000 elk ontvang het.

Section27 sê hy hoop die uitspraak bied ʼn mate van berusting vir die familie en herstel hul waardigheid ná die manier waarop Michael dood is én die manier waarop die onderwysowerhede die familie ná sy dood behandel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
SIOUX

Hoekom kry die hele gesin skadevergoeding?
Dit is n ramp en ek wens dit nie op sy ergste vyand nie maar die hele gesin moet nou vergoed word?

Alet Klaassen

Die geld moes kom uit die sogenaamde vername ministers en hulle medewerkers in die regering wat geensins omgee oor wat met die gewone mens gebeur nie. Miskien as almal begin om regte mense aanspreeklik te hou sal hulle die nood van die gewone mens begin raaksien.

Genieve

Geld gaan nooit die kind terug bring nie die familie gaan die geld geniet en die kind is dood net my mening moenie my aanval nie asb.

susan

Ek wou presies dieselfde sê…

Nettie

Gaan dié spul geld nou die kind se dood minder traumaties maak vir die gesin? Waarom word die HELE gesin vergoed nadat die kind in ‘n puttoilet verdrink het, heel waarskynlik omdat – soos ek hierdie kinders ken – hy op die toiletbankie/sitplek sit en mirakels maak het en toe ingeval het? Word die gesinne en families van plaasmoord-slagoffers in dieselfde mate vergoed? Want immers is gaan dit om een universele saak hier: die VEILIGHEID van landsburgers. Of dit nou op ‘n skoolterrein, in ‘n toilet of op ‘n plaas in privaat-besit is.