Skadevergoeding vir man wat in stort op skip gly

Frik Grobler en sy vrou, Esmay. (Foto: Verskaf)

Frik Grobler, uitvoerende hoof van die maatskappy Dewfresh, het ʼn skadevergoedingseis teen die operateurs van ʼn passasierskip gewen nadat hy vroeër aan boord van die MA Zaandam geval en sleg seergekry het.

Jean-Paul Rudd, ʼn vennoot by die prokureursfirma Adams & Adams, sê wat as ʼn droomvakansie na Suid-Amerika begin het, het vinnig in ʼn nagmerrie vir die 74-jarige Grobler en sy vrou, Esmay, verander.

Die egpaar is mal oor reis en Grobler wou nog altyd die Titicacameer, een van Suid-Amerika se grootste mere op die grens tussen Peru en Bolivia, besoek. Die reis het ʼn vaart van 16 dae ingesluit.

Die reling was erg verroes. (Foto: Verskaf)

Rudd sê die tragedie het gebeur twee dae voordat die MA Zaandam in Rio de Janeiro sou aankom.

“Terwyl hy vroegoggend in die stortbad was, het Grobler die skip skielik voel beweeg en het hy na ʼn handreling in die stort gegryp. Ongelukkig vir Grobler het die reling uit die muur losgekom en hy het uit die stort geval en sy kop teen die vloer gestamp.

“Grobler was ʼn paar minute lank bewusteloos. Hy is later na die skeepshospitaal geneem waar hy versorg is deur die skeepsdokter, ʼn jong vrou van Pretoria.”

In Brasilië het vriende Grobler, op aanbeveling van die Suid-Afrikaanse ambassade daar, na die Daher-hospitaal geneem. Hy het mediese behandeling ontvang en daar is onder meer skanderings van sy kop en rug gedoen om te bepaal of hy sterk genoeg is om die lang vlug terug na Suid-Afrika te onderneem.

Die verroeste stortreling. (Foto: Verskaf)

Ná Grobler se val is die skip geïnspekteer en verskeie handrelings is weens kwaai roes oor die jare verwyder. Dit het die relings hopeloos onveilig gemaak, het Rudd gesê.

By sy terugkeer na Suid-Afrika het Grobler regshulp ingewin om stappe teen die eienaars van die MA Zaandam te doen. Omdat die vaartuig in Nederland geregistreer is, sou Nederlandse wetgewing geld, het Rudd gesê.

Die maatskappy het ná onderhandelings tussen Grobler en die skip se versekeraar eindelik op ʼn vergoedingsbedrag van €12 000, oftewel nagenoeg R215 000, ooreengekom.

Rudd sê hoewel die saak nou afgehandel is, het die newe-effekte van die val ʼn merk op Grobler gelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.