Skaduminister fisiek verbied om KZN-onkologie-eenheid te besoek

vuurvreters_hospitaal_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Patricia Kopane, die DA se skaduminister van gesondheid, en dr. Imran Keeka, die DA se woordvoerder van gesondheid, het gesê hulle is Maandag fisiek daarvan weerhou om die onkologie-eenheid in die Addington-hospitaal in KwaZulu-Natal te besoek. Dit kom ná die departement van gesondheid in KwaZulu-Natal skielik toestemming wat hulle gehad het om ʼn oorsigtelike besoek af te lê, teruggetrek het.

“Toe ons by die onkologie-eenheid van die Addington-hospitaal wou ingaan, is ons ingewag deur gewapende sekuriteitswagte wat ons toegang geweier het,” het Kopane gesê. Sy het bygevoeg dat lede van die parlement ʼn grondwetlike reg het om oorsigtelike besoeke af te lê.

“Dit lyk asof die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid iets wegsteek. Ons trek dit nou in twyfel dat hulle ooit enige verbeteringe aangebring het. Die arrogansie waarmee Sibongiseni Dhlomo, die LUR vir gesondheid in KZN, die besoek hanteer het, is totaal onaanvaarbaar. Dit is as gevolg van sy beweerde wanbestuur dat honderde kankerpasiënte dood is,” het Kopane gesê.

Die DA het weereens Dhlomo se kop geëis en bygevoeg dat hulle verskeie moontlikhede ondersoek om seker te maak hy ry aan die pen.

Maroela Media het vroeër berig die DA het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) se verklaring dat die verslag oor KwaZulu-Natal se onkologiekrisis afgehandel is en binnekort gepubliseer sal word, verwelkom.

“Die verslag het bevestig wat die DA nog die heeltyd sê: dat toerusting wat noodsaaklik is vir ondersoek en behandeling óf gebreek is óf glad nie beskikbaar is nie, dat daar ʼn tekort is aan personeel en dat daar ʼn reuseagterstand is wat daartoe lei dat behandelbare kankers vinnig ongeneeslik word,” het Keeka gesê. “Ons bedank die MRK dat dit een van die min hoofstuk 9-instansies is wat klaarblyklik nie deel is van die staatskaping nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Yster ·

Haai. Wat kan dan verkeerd wees. Alles is tog seker in orde. Daar is mos nie skelms of bedrog in ons land nie. Nee nooit . Seker bang die besoekers dra kieme in .Alles is mos mooi en skoon daar binne. So skoon daar is niks oor nie.

johnny_walker ·

Is daar enigiets wat hulle reg kan doen ? is daar enige departement waar daar nie korrupsie , obevoegdheid of nepotisme is nie , hoe ver moet dit gaan voor mense in die land gaan besef die KP manne was destyds reg en die liberale is en sal altyd verkeerd wees

al ·

Die ANC regering presteer uiters swak en die belaglikheid daarvan is dat hul dink dis normaal!

Seldsame siekte ·

Stem saam met bogenoemde kommentare. Die algemene vlak van dienslewering in ons land is baie laer as die gemiddelde. Soms nie eens waarneembaar. Kan ons maar net hoop verandering in terme van integriteit en ingesteldheid en toewyding kom gou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.