Skape uit diewe se kloue gered

Die gesteelde skape is in dié voertuig gekry. (Foto: Saps)

Spanwerk deur die gemeenskap en die polisie het daarvoor gesorg dat meer as 40 skape aan ‘n boer terugbesorg is, nadat die diere op ʼn kleinhoewe buite Bloemfontein gesteel is.

Van die diere is vasgebind en op mekaar gestapel op die agterkant van ʼn verlate wit Nissan-laaiwa in die omgewing van Olive Hill aangetref. Polisiebeamptes van die Navalsig-polisiestasie, Bloemfontein se blitspatrollie, die veediefstaleenheid en lede van ʼn plaaslike buurtwag se hulp is ingeroep en hulle kon vasstel dat die skape aan ʼn 47-jarige eienaar van ʼn kleinhoewe in die omgewing behoort. Die boer het aan die polisie gesê dat 65 skape op haar plot gesteel is.

“ʼn Gesamentlike soektog na die verdagtes het daartoe gelei dat die eerste verdagte in die omgewing opgemerk is. Hy het ʼn silwerkleurige Daihatsu bestuur. Verdere inligting het die polisie na ʼn huis in Bloemside gelei, waar hulle die eienaar van die Nissan en ses skape aangetref het. Twee van die skape was reeds dood en die verdagte is in hegtenis geneem.

Die skape is aan hul eienaar oorhandig en die twee verdagtes, onderskeidelik 40 en 47 jaar oud, is tans in aanhouding. Hulle sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn. Hulle word aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Gaan seker weer aanvoer hul was honger, hoop hul word swaar gestraf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.