‘Skatkis van kennis’: Hans Heese sterf

Dr. Hans Heese. (Foto: Facebook/eGGSA)

Dr. Hans Heese, bekende skrywer en genealoog, is Maandag in die ouderdom van 79 oorlede. Hy het weens ʼn aneurisme gesterf.

Heese was ʼn gerekende geskiedenisskrywer en kenner op die gebied van die bevolkingsamestelling van die vroeë Kaap, en veral die slawegeskiedenis.

eGGSA, ʼn virtuele afdeling van die Genealogievereniging van Suid-Afrika, het Heese se dood bevestig en ʼn huldeblyk gelewer.

“Hy was ʼn reus in die wêreld van genealogie en geskiedenis. Seminale werke soos Groep sonder grense was baanbrekerswerk. Hy was ʼn produktiewe skrywer, navorser en professor. Sy bydrae tot die wêreld van geskiedenis en genealogie is onmeetbaar. Dit is ʼn groot verlies vir ons gemeenskap,” lui eGGSA se inskrywing.

Hans Friedrich Heese het in 1984 bekendheid verwerf met Groep sonder grense, ʼn studie wat handel oor die rol wat diegene van gemengde Europese, Oosterse en Afrika-herkoms aan die Kaap van die Goeie Hoop gespeel het gedurende die tydperk 1652 tot 1795.

Hy was vanaf 1976 tot 1998 ʼn senior navorser verbonde aan die Instituut vir Historiese Navorsing by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

Heese het sy skoolopleiding aan die Hoërskool Uniondale voltooi en studeer aan die Universiteit Stellenbosch (US) waarna hy onderwys gee in Malawi, Noord-Kaap en Namibië.

Dr. Hans Heese se boek, “Groep sonder grense”.

Hy verwerf ʼn doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad in 1976 met sy verhandeling Die Afrikaners in Angola, 1880-1928.

Benewens die legio geskiedenis- en politieke skrywes en artikels wat hy oor sy loopbaan gelewer het, was Heese ook sedert 1999 ʼn argivaris by die US.

“Dr. Hans Heese was so ʼn merkwaardige mens en goeie vriend. Rus sag Hans,” skryf De Wet Potgieter op Nagkantoor se Facebook-blad.

Marnus Hattingh, joernalis by Die Burger, het ook ʼn roerende huldeblyk aan Heese, wat ʼn familievriend en kollega van sy ouers was, op Facebook gelewer.

“Hy’t gereeld stories vir my gelewer vir die koerant, oor interessanthede van kombi’s, Peugeots en die groot oorloë. ʼn Skatkis van kennis en belangstellings ver en wyd.

“Mooi loop, oom Hans. Dit was te gou, maar ons sal jou vir altyd onthou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris ·

Rus in vrede Ou Grote. Daai boek Groep sonder Grense het die bewys gelewer oor wat die familie oor die jaar gepraat het. Dankie vir jou bedra vir Suid Afrikaanse Geskiedenis.

Republikein in die Wes Kaap ·

Hy het baie Afrikaners bitter kwaad gemaak oor hul herkoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.