Skedeldefek keer nie dié slimkop-ma

Nicoleen Moorcroft (Foto: Verskaf)

’n Vrou wat met ’n rare strukturele defek aan die skedel gediagnoseer is, het in April haar LLB-graad met onderskeiding aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf. Dit is boonop die derde graad wat Nicoleen Moorcroft verwerf.

Dit was egter nie ’n maklike pad wat Moorcroft geloop het om tot hier te kom nie.

Moorcroft is ná skool met Arnold-Chiari-misvorming gediagnoseer. Dit is ’n rare strukturele defek aan die skedel waar breinweefsel tot in die ruggraatkanaal strek.

Moorcroft het in 2009 ’n BA-graad in sosiale wetenskappe behaal en in 2010 het sy haar honneurs in dié graad voltooi, maar moes in 2016 weens haar verswakte gesondheid en intense mediese behandeling, ophou studeer.

Sy het gevolglik ’n dekompressie-operasie ondergaan om die druk op haar brein te verlig.

“Na dié operasie het my gesondheid en geestelike vermoëns aansienlik verbeter,” vertel Moorcroft in ’n verklaring uitgereik deur die UV.

Moorcroft het in April tydens die UV se gradeplegtigheid haar derde graad, ’n LLB-graad, behaal.

“Ek het ’n groot passie vir studeer en dit is vir my lewenstylveranderend, eerder as net iets wat ek in my vrye tyd gedoen het.”

Moorcroft werk ook as senior beampte in die kantoor van die rektor en visekanselier, prof. Francis Petersen. Sy werk nou saam met Petersen en help om sy projekte te beplan, bestuur en koördineer.

Dié hardwerkende vrou het ook ten tyde van haar studie getrou en geboorte aan ’n dogtertjie geskenk.

“Nadat ek vroeg in my lewe die waarde van tydbestuur geleer het, het hierdie onskatbare vaardigheid ook gehelp om werk, studies en persoonlike verantwoordelikhede te balanseer. Ek was ook ongelooflik gelukkig om ’n buitengewoon ondersteunende en begripvolle span in die kantoor te hê – sonder hul konstante ondersteuning en aanmoediging sou ek dit dalk nie kon maak nie.”

Moorcroft beplan om vir eers ’n blaaskans van akademie te neem en eerder op haar professionele en persoonlike lewe te fokus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Swerwer ·

Weereen ‘n bewys van “Waar daar ‘n wil is, is ‘n weg”

Althes ·

Wat ñ pragtige vrou. Baie trots op jou en weet sukses sal jou volg.

Casper ·

Sy is ‘n natuur frats want sy is waaragtig baie mooier as ‘n mens.

4ntj13 ·

Dis nie so raar nie: omtrent een uit 1000 mense lei hieraan.
Baie geluk dat jy deurgedruk het! Meeste mense sou opgee as hulle begin sukkel het. En boonop nuut getroud en ʼn ma geraak! Uitsonderlik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.