Skeepswrak geskuif en oop vir publiek

Foto: Verskaf

Die Commodore II-skeepswrak is uit die Dieprivier verwyder en na grond naby die Lagoon Beach-hotel verskuif.

Felicity Purchase, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling, het gesê die verskuiwing het sowat sewe ure geduur en is maande lank beplan. Die wrak is Vrydag uit die Dieprivier in Milnerton verwyder en na grond van die metroraad naby die Lagoon Beach-hotel verskuif.

Die wrak weeg ongeveer 21 ton en is omtrent 14 m lank en 6,8 m breed. ʼn Hyskraan van 130 ton is gebruik om die wrak uit die rivier te verwyder waarna dit op ʼn vragmotor vervoer is. Lede van die publiek sal nou die wrak kan besigtig.

Foto: Verskaf

Die Commodore II-skeepswrak is tydens ʼn winterstorm in 2008 blootgelê en sedertdien is verskeie pogings aangewend om die wrak te skuif aangesien dit ʼn gevaar kon inhou vir bote in die rivier en omdat dit as ʼn belangrike historiese bewysstuk beskou word.

Tydens die maande lange beplanning om die wrak te skuif moes die stad se departement vir omgewingsbestuur ʼn permit van die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbron-agentskap (Sahra) bekom aangesien die wrak meer as 60 jaar oud is en as argeologiese materiaal gesien word ingevolge die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne.

Die Commodore II is in 1919 in Seattle in die VSA gebou en was glo te sien in die 1935-rolprent Mutiny on the Bounty met Clark Gable. Die skip is ook gebruik om steenkool te vervoer tydens die Tweede Wêreldoorlog. Pres. Paul Kruger se kleinseun het die skip gekoop en na Buenos Aires in Argentinië gereis.

Foto: Verskaf

Die boot se romp is deur ʼn modderbank in ʼn rivier beskadig en dit het 40 dae geneem om dit te herstel. Die boot is ook tydens ʼn brand beskadig. Met die reis na Kaapstad is die mas en seile tydens ʼn storm erg beskadig. Noodherstelwerk is gedoen en die bemanning is veilig na Kaapstad gebring, waar die skip gestroop is en die oorskot aan die genade van Milnerton se brekers oorgelaat is.

“Ek wil graag al die rolspelers, veral ons stadsamptenare, bedank wat betrokke was en toegewyd was om die finale oorblyfsels van die Commodore II te verskuif. Hierdie projek het twee doeleindes gehad: eerstens, om die veiligheid van die publiek wat die rivier gebruik terwyl hulle op hul bote is te verseker; en tweedens om die belangrike historiese bewyse te verskuif.

“Ons glo dit is ’n belangrike deel van die geskiedenis wat vir komende geslagte bewaar moet word. As sodanig gaan’’n inligtingsbord opgerig word om die publiek in te lig oor hierdie skoener en die storie daaragter.

“Ten slotte wil ek die publiek bedank vir hul geduld oor die maande terwyl hierdie operasie aan die gang was,” het Purchase gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Letty-Ann Möller ·

Op Bredasdorp,’n plattelandse dorp in die Overberg, is daar ‘n uitstekende #skeepswrakmuseum. Sien meer op die fb van #ShipwreckMuseumBredasdorp.
Hierdie versameling skeepswrakke en artifakte kom van skepe wat by die suidste punt van Afrika, in die Agulhas-area, gestrand het.

Nettie ·

@Letty-Ann Möller – jammer, die Skeepswrak Museum op Bredasdorp is maar ‘n teleurstelling. Ja, daar is ‘n goeie paar artifakte wat uit gestrande skepe gered is, skeepsklokke, kanonne, los artifakte, persoonlike besittings van passasiers ens. Maar, ten tye van die besoek wat ek aan die Skeepswrak Museum gebring het, was die museum beamptes maar bra oningelig, die museum was vuil en swak belig (dit het INSTANDHOUDING geskreeu) en was ek baie teleurgesteld. Die museum beamptes kon mens nie eens behoorlike inligting gee oor van watter skip die groot borsbeeld wat daar uitgestal word, gee nie – laat staan nog inligting oor die sinking van die Birkenhead en ander skepe aan die Suid Strandkus.

Francois le Cochon ·

Ek het 2008 die wrak in die rivier gesien. Het gewonder watter skip dit sou wees.

zoom zoom ·

So dit is waar Oom Paul die Kruger ponde weggesteek het. So ou vabond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.