Skeepswrak spoel weer uit in Kaapstad

Die Antipolis-wrak (Foto verskaf deur Stad Kaapstad)

Die Antipolis-skeepswrak, wat vroeër op die rotse naby Victoriaweg naby Oudekraal te sien was, het uitgespoel. Die skip was ʼn groot, 25 000 ton Griekse olietenkskip wat in Julie 1977 gestrand geraak het. Die vaartuig was jare lank ʼn gewilde bestemming vir plaaslike inwoners en toeriste.

Die Antipolis het tussen rotse vasgekeer geraak toe dit gesleep is en dit wou nie verder beweeg nie. Die skip is daarna as ʼn partytjie-venue gebruik totdat die struktuur verwyder is en dit as skrootmateriaal verkoop is. Tot dusver het die skip naby Oudekraal gerus – ʼn ideale plek vir duikers.

Die skip het nou egter ʼn nuwe hoofstuk in sy geskiedenis: die Antipolis het Woensdag uitgespoel tussen Oudekraal en die Twaalf Apostels-hotel in Kampsbaai.

Stad Kaapstad se kusbestuur maan die publiek om nie die skip te besoek nie. “ʼn Groot deining het die skip opgetel en dit sowat 40 meter – 50 meter na die kuslyn tot op die strand gebring,” het Eddie Andrews, adjunkburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en die omgewing vir Stad Kaapstad, gesê.

Só het die Antipolis aanvanklik gelyk (Foto verskaf deur Stad Kaapstad)

Stad Kaapstad se kusbestuur het Vrydag die wrak besoek en bevind dat die wrak nog steeds onstabiel is en saam met die deinings beweeg. Klein stukke het afgebreek en lê oral op die strand. “Alhoewel hierdie groot deel van die skip uiteindelik sal vassak, sal dit effens bly beweeg, afhangende van die grootte van die deinings en gety. Dis moontlik dat die wrak weer kan beweeg indien ʼn groot deining dit oplig. Daar is tans geen onmiddellike infrastruktuur waarteen dit tot stilstand kan kom nie.”

Andrews sê die span bevestig dat die wrak en die ligging daarvan nie ʼn groot risiko inhou vir die omgewing nie. “Die enigste risiko is as lede van die publiek daarop gaan probeer klim of stukke daarvan gaan probeer verwyder. Ons maan almal om eerder weg te bly en nie daarop te klim nie. Dit is nog onstabiel, baie geroes en moet vermy word.”

Stad Kaapstad sal die wrak bly monitor en so vinnig as moontlik algemene waarskuwingstekens oprig by toegangspunte tot die wrak.

Die laaste skeepswrak aan dié kuslyn het in 2012 by Clifton plaasgevind, die Eihatsu Maru.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.