Skel op Kaapse strande kan eersdaags tot tronkstraf lei

Argieffoto

Die Wes-Kaap, en spesifiek Kaapstad, mag dalk die bakermat van skel in Afrikaans wees, maar as die Kaapse metroraad sy sin kry, gaan jy eersdaags betaal of selfs tronk toe gaan as jy op Kaapse strande gekruide taal gebruik.

Dit is een van die voorgestelde nuwe regulasies oor strandgedrag waarop Kapenaars nog tot aanstaande Maandag kommentaar kan lewer op die metroraad se webblad.

Die regulasies beslaan 17 bladsye en dek alles van visvang tot vuurmaak. Dit bevat allerlei baie praktiese, streng en sekerlik omstrede voorskrifte waarvan party nogal snaaks is en moeilik gaan wees om toe te pas omdat dit op die oog af redelik op persoonlike oordeel en fokus kan berus.

So byvoorbeeld sal net sambrele en gazebo’s kleiner as nege vierkante meter op strande opgerig kan word – en net as dit nie lelik is nie. Hoewel daar ’n hele lange lys van definisies in die wetgewing is, word nie gedefineer wat ’n mooi of ’n lelike sambreel of gazebo is nie.

Dieselfde geld die konsepregulasie waaroor Kapenaars die meeste agter hul hande vir die metroraad lag, naamlik die verbod op “aanstootlike of vloektaal”, “onbehoorlike wys van die liggaam” en “onbehoorlike gedrag”. Ongelukkig word geen woordelys, indeks van onbehoorlike liggaamsdele of lys van onbehoorlike gedrag verskaf deur die andersins tog so, so deeglike metro (in sommige kringe bekend as die “nanny state”) nie.

Daar is darem van die reëls wat duideliker omskrewe is en wyer steun sal geniet, hoewel baie mense voel dit is te streng, onimplementeerbaar en neem baie van die lekker daarvan om in die Kaap te woon weg – soos die algehele verbod op die maak van vuur op die strand en die verbod op oorslaap op die strand.

Van die bepalings is baie sinvol. Vuurwerk op strande word verbied, asook die oprig van vaste skuilings en luidsprekers. Niemand mag met ’n voertuig ry op die strand binne honderd meter van waar mense swem nie.

Niemand mag ’n dier op die strand doodmaak of afslag nie (vat so, Clifton-skaapslagters!), niemand mag kos, drank of dwelms op die strand verkoop nie, niemand mag dronk of bedwelm op die strand wees nie, niemand mag ’n vertoning op die strand lewer of enigiets smous nie.

Glas goedere is op die strand verbode en as jou hond op die strand ontlas, moet jy dit in ’n sakkie optel en met jou saamvat.

Nou wat gebeur met jou as jy die sewentien bladsye se reëls oortree? ’n Boete en/of tronkstraf van maksimum twee jaar, maar met geen aanduiding van hoe erg jy moet swets om twee jaar agter tralies deur te bring nie…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

SêMaarNet ·

Nou mag daai Tannie in die ombeskofte bikini nie meer ‘n vertoning lewer nie…

Kaaskop ·

Presies wat ek dadelik ook aan gedink het, mag my 85 jarge ouvrou nie meer haar seksie lyf (nie lyfie nie) in ‘n bikini vertoon nie?

Lyk die wette is soos die een in Malawi waar jy beboet kan word as jy in die publiek ‘n windjie laat!! weet nog steeds nie hoe hulle jou gaan vang nie!

Johann cb ·

Ek hoop daar sal voldoende mannekrag wees om die wetgewing toe te pas!

JohanR ·

Arme beamptes wat al hierdie reels moet onthou en toepas. Is Clifton nog geruining, of hou dit net vir ses weke?

Pieter ·

Jul sal n buitelandse taakmag moet kry om wet en orde toe te pas. Tussen die wetstoepassers en howe val die pap op die grond in SA.

CMS ·

Dis goed. Kom kyk hoe lyk ons strande op die Weskus van die honde bollie. Die hele dorp en besoekers bring hulle honde tot by die strand en laat hulle daar los om te hardloop en te ontlas. Waar moet ons stap? Waar kan die kinders op ‘n skoon strand speel? Dis tyd….

humor ·

Hannelie ja. Daar is alleen n verbod op onbetaamlike seker skrapse swemdrag maar daar is geen verbod op kaal le nie.

S Mostert ·

Ag dis so belaglik. Doen julle werk en hou op om twak uit te dink

Dieter ·

So ek mag op die sypaadjie langs die strand vloek?
En dis die tipe snert waarmee die DA vorendag kom?
Hulle heel beste poging?
Wil Kaapstad se stadsvaders nie maar eerder na die regte Nannystan (aka “Oestralië) toe emigreer nie?

Strandloper ·

Waaaaaat? Die kaders darem ne…dit is nie laer skool nie….maar aan die anderkant was hul nooit op skool nie ne….

Bach ·

Wat is die definisie van gekruide taal? ‘n Sekere woord kan vir een persoon vloek wees en vir ander nie.

Gert ·

DA is nes ANC, wil absoluut alles wat ons doen reguleer, daar is reeds byna geen vryheid meer nie. Mens moet maar net in jou huis sit en vir die muur staar, dis al wat nog nie onwettig is nie.

Danie ·

Ag nee wat Gert. Ons het nog wavragte vol vryhede. Dis opsioneel om enige wet te gehoorsaam. Onthou die kans dat jy gevang gaan word is naby aan nul. So maak gerus soos jy smaak.

kolla ·

Maar dink net watter koekerige konserwatiewe waardes sou gegeld het as die VF+ aan bewind was……..

rg ·

Wat het geword van leef en laat leef? Dis wat gebeur wanneer sommige mense opgevoeter is in plaas van opgevoed. Dan moet almal reguleer word. Kan daar ook n reel ingestel word vir mense wat in die publiek langs mekaar sit of staan en nogtans op mekaar skree of tel dit ook as skel?

Ryno ·

Jan Jan, die stadsraad sal NIKS doen indien die EFF weer n skaap slag nie. Wat kan hulle doen? Die EFF sal eenvoudig amok saai totdat die saak teen hul makkers teruggetrek word. Snaaks hoedat party mense dink ons bly in n land waar alle wette afgedwing kan word. n Klein rebelse deeltjie van my wens eintlik hulle slag weer ietsie vir die kole. Net om die stadsraad te wys hoe magteloos hulle eintlik is.

Poerie ·

Nou hoé gemaak met n Nederlander op Clifton wat in sy taal roep na sy verlore kat?

Hanno ·

Vloek is n interessante sosiale verskynsel. Die enigste rede hoekom ons sekere woorde as vloekwoorde ervaar, is omdat ons ouers vir ons so gesê het. Dis nie iets wat n kind self uitdink nie. Indien almal alle woorde as normaal beskou en dit in die algemene spreektaal gebruik, sal vloek binne een geslag verdwyn. Dis n “euwel” wat kunsmatig aan die lewe gehou word, juis deur die mense wat die ergste daarteen gekant is. Homo sapiens is voorwaar n fassinerende spesie.

A Mac ·

Makliker gesê as gedoen. As die beleidmakers maar net wil besef dat dit wat om die ronde tafel in lugverkoelde raadsale besluit word nie altyd so prakties in die buitelug geimplimenteer kan word nie. Het die “nanny state” nou ook “regulations minders” aangestel om die reëls te polisiëer?

Grompie ·

Jo jo in 45 jaar was daar nooit geskel op die strande nie nou het strandgangers verander dat so n wet gemaak moet word.Stel jou voor die res van die wereld stel sulke wette in.Dit dui op onopgevoede mense.Dit dui op swak,swak………sies sies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.