‘Skelm’ buffelverkoper in die hof

Jaco Opperman (Foto verskaf deur die SAPD Limpopo)

Jaco Opperman (33) het Vrydag in die Modimolle-landdroshof in Limpopo verskyn op aanklag van bedrog.

Opperman is in Witbank in hegtenis geneem deur die polisie van Mpumalanga ná ʼn lang soektog, het lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, gesê.

“Hy het na bewering die klaer bedrieg deur buffels te koop aan te bied en die klaer het ʼn bedrag van R20 000 aan hom oorbetaal. Die klaer het ʼn kriminele saak aanhangig gemaak toe hy besef het hy is bedrieg,” het Ngoepe gesê.

Die polisie was al sedert Mei 2016 na Opperman op soek.

Die polisie het lede van die publiek, wat moontlik ook deur Opperman bedrieg is, aangemoedig om die ondersoekbeampte, sers. Amanda Rossouw van Modimolle, te kontak.

Opperman word in hierdie stadium verbind met ʼn aantal sake in Midrand, Gauteng, Lephalale en Burgersfort in Limpopo.

“Hy bly in aanhouding tot 1 September 2017 wanneer hy sal aansoek doen om borgtog,” het Ngoepe bygevoeg.

Die polisie se ondersoek duur voort.

Maroela Media het vroeër berig Opperman het buffels te koop aangebied op die internet. Mense wat belangstel om buffels te koop het dan ʼn deposito in ʼn bankrekening inbetaal en nadat die geld inbetaal is, het die verkoper verdwyn. Die verdagte het na bewering ook onder die name Tinus Rassie Ras, Kobus Kruger en Rodney Enslin “sake” gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Leahim ·

Ek brand om die berigte te lees van die hoof van die intelegensie wat n vervalste matriek sertifikaat het en die polisieman wat in Brasilië gevang is vir dwelmsmokkelary asb mm plaas fotos en name sodat ons kan sien wie hulle is.

Leahim ·

Ek wil sien wie die skelm is wat vals matriek sertifikate het.

Ekke ·

Iets maak nou ni sin. Kriminele klag vir kamma buffels betaal en meer mense ingeloop? Die florida polisie weier om kriminele saak te open vir kamma dakopgraderingswerk. Kontrakteur bedrieg landswyd, adverteer op internet. Verander kort kort “besigheidsnaam”. Hy maak sy lewe so. Floridapolisie se dis siviel???? Watter polisiekantoor is nou reg??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.