‘Skelm’ buffelverkoper weer agter tralies

Jaco Opperman (Foto verskaf deur die SAPD Limpopo)

Jaco Opperman (33), ʼn vermeende wildbedrieër wat die polisie ontduik het sedert hy in Oktober 2017 uit aanhouding ontsnap het, is weer agter tralies.

Opperman het verlede jaar uit aanhouding by die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria verdwyn nadat hy R500-borgtog betaal het wat nooit aan hom toegestaan is nie.

“Hy het op die een of ander manier daarin geslaag om borgtog van R500 te betaal. Borgtog is nooit tydens sy hofverskyning toegestaan nie. Die verdagte was veronderstel om die volgende Maandag weer in die hof te verskyn, maar was nêrens te vinde nie,” het brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder vir Limpopo, gesê.

Voorlopige ondersoek dui daarop dat daar moontlik omkopery plaasgevind het. ʼn Saak van ontsnapping uit wettige aanhouding is teen Opperman aanhangig gemaak en ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik. Nog sake van dwarsboming van die gereg en medepligtigheid om iemand te help ontsnap, is teen ʼn landdros en ʼn adjudant-offisier aanhangig gemaak en word ondersoek.

Mojapelo het gesê Opperman is weer Vrydag deur ondersoekbeamptes van die Modimolle-polisie in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn wenk van die gemeenskap ontvang het. “Die wenk het die polisie na ʼn plek in Potchefstroom in Noordwes gelei waar hy weggekruip het. Hy het daar by ʼn vrou gebly wat hy in 2017 op Facebook ontmoet het. Hy het ʼn valse naam, Herman Calitz, gebruik.”

Opperman is in Augustus 2017 in Witbank, Mpumalanga, in hegtenis geneem nadat hy glo verskeie mense met ʼn slenter gevang en uit hul geld bedrieg het. Die polisie was al sedert Mei 2016 op soek na hom.

Opperman het glo buffels te koop aangebied, maar verdwyn sodra die geld vir die buffels in sy bankrekening inbetaal is. Hy het mense glo met minstens R60 000 ingeloop en drie sake van bedrog is teen hom aanhangig gemaak.

Hy het op 20 September in die Modimolle-landdroshof verskyn en is daarna na die gevangenis in Pretoria oorgeplaas.

Opperman moet vandag weer in die Modimolle-landdroshof verskyn.

Die jongste foto van Jaco Opperman. Foto: Verskaf

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

R ·

Alida, met hulp van binne. En ai, die man lyk nog so jonk om nou al ‘n misdadiger te wees.

z ·

Mens kan maklik uit die tronk verdwyn, jy moet net die regte kontakte hê.

Pop ·

Ja sjoe. Niemand wat ingestel is om krimineel te wees leer ooit nie. Elke keer dink hulle net dat hulle diè keer gaan wegkom.

James Boucher ·

Ek het n klomp geld in sy rekening betaal. Daar was n prokureur wat my saak teen hom hanteer het. Kannie onthou wie nie. Help asb

Marika de Klerk ·

Jaco Opperman is ‘n groot skelm met baie aliasse. Hy het ook vir Boere in Nood ‘n rat voor die oë probeer draai deur kamtig ‘n buffel te skenk vir lootjies wat verkoop sou word om geld in te samel vir boere wat deur die droogte geteister word. Toe was sy alias Tinus Rassie Ras. Gelukkig het Boere in Nood geen finansiêle skade gely nie. Die man moet maar vir lank tjoekie toe gaan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.