Skenk bloed vir kinders met kanker

Jordan Pelser ondersteun die bewusmakingsveldtog vir kinders met kanker

Jordan Pelser ondersteun die bewusmakingsveldtog vir kinders met kanker

ʼn Bloedskenkgeleentheid word spesiaal vir 13 September in Pretoria beplan as deel van ʼn bewusmakingsveldtog vir kinders met kanker.

Die bloedskenkgeleentheid gaan poog om soveel as moontlik bloed- en bloedplaatjieskenkings te kry wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloedbank hanteer gaan word. Ondersteuners vir mense met kanker kan ook tydens die geleenheid hul hare skeer of kleur.

Die organiseerders gaan ook tydens die geleentheid ʼn tjek oorhandig aan die trust wat geskep is vir die vierjarige Jordan Pelser om hom te ondersteun in sy brawe stryd teen kanker.

Jordan is in Maart vanjaar met Burkitt-leukemie gediagnoseer. Dit veroorsaak dat te veel witbloedselle in die bloed en beenmurg vorm. Hy is sedertdien in en uit die Unitas-hospitaal om chemoterapie, bloed- en bloedplaatjie-oorplasings te ontvang. Jordan het op 18 Mei by die dood omgedraai en moes in daardie tyd nagenoeg nege weke lank in die hospitaal spandeer.

Gaste kan die dag ook lekker vermaak verwag: Karen Ferreira, Dewald Steyn, Ruan Wepener, Neil Sharim, Spider-Man, Sonel Luyt en Mnr. Suid-Afrika John Owens, is van die bekendes wat die dag gaan ondersteun en optree. Chris Batts, ʼn kragman van Pretoria, gaan ook bewys hoekom hy die wêreldrekord hou deur ’n reuseband om te dop.

Die pret begin om 09:00 by die Champions Sports Bar in die Silver Oaks Crossings-sentrum. Daar word ook voorsiening gemaak vir rugbyliefhebbers wat die wedstryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland om 09:35 wil kyk.

Klik hier of skakel 012 809 2307 vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.