Dit vorm deel van ʼn program om dit uiteindelik moontlik te maak om nuwe harte te kweek uit hartweefsel van ʼn persoon wat ʼn hartoorplanting moet ondergaan. ʼn Persoon kan dan as’t ware sy eie skenker word.
Dié deurbrake is gemaak deur professore Francis Smit en Pascal Dohmen (Charite Universiteit in Berlyn en buitengewone professor by die UV). Die oorplanting van harte en ander soliede organe (bv. niere en lewer) het die reddende maatstaf vir eindstadium-orgaanversaking geword. Oorplantings oorskry enige ander vorm van beskikbare behandeling by verre en verleng lewens met ʼn gemiddeld van 15 jaar in die geval van hartoorplantings.
Twee aansienlike probleme bestaan egter steeds: ʼn nypende tekort aan skenkers en orgaanverwerping, wat op sy beurt immuunonderdrukking vereis. Die verwerping van ʼn orgaan is ʼn komplekse reaksie op skenkerweefsel wat hoofsaaklik veroorsaak word deur die bewuswording van vreemde (skenker)-selle en spesifieke antigene op die seloppervlaktes. Immuunonderdrukkende medikasie word gebruik om die ontvanger se liggaam te onderdruk en sodoende die verwerping van die oorgeplante orgaan te verhoed.
Die pasiënt loop egter altyd ʼn sekere mate van gevaar dat die orgaan verwerp sal word en is daarom lewenslank aan immuunonderdrukking onderworpe. Immuunonderdrukking veroorsaak hoër vlakke van risiko ten opsigte van infeksies en word geassosieer met die ontstaan van hipertensie of hoë bloeddruk, nierversaking, vervroegde aterosklerose en koronêre hartvatsiekte. Immuunonderdrukte pasiënte loop ook die risiko om sekere tipes kanker soos limfoom te kry.
Pogings om soliede organe te deselluleer, waardeur alle lewende selle en hul oorblyfsels uit die skenkerorgaan verwyder word om sodoende ʼn biologiese weefselskelet te vorm wat slegs uit bindweefsel bestaan, was dus die volgende mees logiese stap in die proses. Die veronderstelling is dat die soliede orgaanweefselskelet in ʼn laboratorium gedeselluleer kan word deur selle van die ontvanger van die oorplanting se eie liggaam te gebruik en dan, op ʼn sekere stadium van ontwikkeling, in die ontvanger in te plant. Hierdie orgaan wat deur middel van bio-ingenieurswese geskep is, sal geensins immuunonderdrukking benodig nie en is letterlik pasgemaak vir die ontvanger.
Die navorsers by die UV, onder leiding van professore Smit en Dohmen het aangekondig dat hulle, deur gebruik te maak van dierehartmodelle, twee noodsaaklike eksperimentele fases in hierdie proses suksesvol voltooi het. Hulle het eerstens ʼn gedeselluleerde volledige hartweefselskelet in ʼn bobbejaan geskep en tweedens het hulle ten volle daarin geslaag om kloppende rothartselle in hul laboratorium te kweek.
Die baanbrekerswerk wat deur dokters Doris Taylor en Harald Ott by die Universiteit van Minnesota en Harvard Universiteit gedoen is, verdien erkenning.
WONDERLIKE deurbraak – baie geluk aan die span! Trots op sulke Suid Afrikaners (en natuurlik die prof van die buiteland ook!)