Skenkings broodnodig vir vierpotiges

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Tshwane het opnuut ʼn beroep op die publiek gedoen om met broodnodige kosskenkings die nood van die groot aantal troeteldiere en plaasdiere in sy sorg te help verlig.

Volgens Elsa Daniels, woordvoerder van die DBV Tshwane, word die DBV se behoefte aan kos al groter weens die instroming van diere op ʼn daaglikse grondslag.

“Die groot uitdaging wat die DBV in die gesig staar, is die nalatigheid van eienaars wat nie hulle diere laat steriliseer nie. Bokse en bokse vol ongewenste babakatjies of -hondjies word daagliks by die DBV afgelaai omdat die eienaars nie in staat is om vir hulle te sorg nie,” vertel Daniels.

Eienaars wat gewoonlik verhuis na ʼn nuwe woning waar diere nie toegelaat word nie, los dikwels ook hulle geliefde troeteldiere in die DBV se sorg. “Die DBV se goue reël is dat ons geen dier mag weier of wegwys nie.”

Daniels vertel dat agt gekwalifiseerde inspekteurs van die DBV se inspektoraatafdeling dag en nag inspeksies hou oor alle gebiede in Tshwane en so hordes hawelose en mishandelde diere red.

Yorkie (Foto: Verskaf)

Die DBV is grootliks afhanklik van die publiek om sy oë en ore op die grond te wees en enige dieremishandeling of -verwaarlosing in hulle gebied aan te meld. Daar is inspekteurs 24 uur per dag aan diens wat dadelik ontplooi kan word indien ’n saak van dieremishandeling aangemeld word.

Volgens Daniels kry hulle gereeld te doen met eienaars wat verhuis en hulle honde met kettings sonder kos en water aan ’n boom vasmaak.

“Ons versoek die publiek om eerder die diere vir ons te bring as om hulle net aan hulle eie genade oor te laat. Ons kry hartverskeurende gevalle waar honde en katte net in swartsakke en kartonbokse langs die snelweg en in die veld afgelaai word omdat die eienaars hulle nie meer wil hê nie,” sê Daniels.

Daniels vertel dat hulle die publiek sover menslik moontlik bewus maak daarvan om diere aan te neem.

“Indien iemand ʼn dier kom aanneem, maak ons seker die dier is gesteriliseer, ingeënt en ontwurm voordat hy in die nuwe eienaar se sorg geplaas word. Ons plant ook mikroskyfies in elke dier se nek om te voorkom dat hulle wegraak en om te verseker dat die dier ‘n permanente identifikasie het,” sê Daniels.

Afgesien van die vierpotige troeteldiere, neem die DBV ook plaasdiere soos donkies, beeste, hoenders, perde en hase in sy sorg.

Donkies (Foto: Verskaf)

“Ons is ’n niewinsgewende organisasie en kry geen finansiering van die stadsraad af nie. Ons maak ten volle staat op finansiële skenkings in die vorm van private skenkings, maandelikse donasies of debietorders.”

Die DBV hou ook gereeld geldinsamelingsprojekte om inkomste te genereer. Op 13 April vanjaar is die 2,3 km lange “Wag-a-Walk”-pretloop by die Smuts-huis in Irene as ʼn jaarlikse instelling ten bate van die DBV van stapel gestuur.

Volgens Daniels beoog hulle om weer ná die winter ʼn pretloop te reël.

Verder probeer die DBV bewustheid skep deur middel van advertering of mediaverklarings. Die publiek word aangemoedig om ook die DBV se Facebookblad te besoek.

Die DBV se grootste behoefte tans is kos vir die diere, maar ander skenkings soos ontwurmingstablette, vlooipoeier en selfs komberse vir die snerpende koue wat nader kruip, is ook welkom.

“Vir die katte benodig ons katkos, katsand en vlooipoeier. Die hasies sal enige vars groente geniet. Die donkies en perde sal vars hooi baie geniet,” sê Daniels.

“Ons is baie dankbaar vir alle bydraes wat ons ontvang. Enige donasie maak ʼn verskil, klein of groot.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Loraine ·

Is daar n telefoon nr beskikbaar?. Ek sal graag n bydra wil maak. Voel baie jammer vir diere wat aan hulle eie lot oorgelaat word. Kan nie dink mense hulle net so langs die pad kan los of vasgemaak sonder enige kos en water of enige skuiling nie. Baie hartseer om so iets te sien. Dankie aan SPCA wat bereid is om hulle in te neem en hulle te versorg. Hulle lewer n baie goeie diens. Sal wonderlik wees as daar nog mense is wat n bydra kan maak.

nella ·

Ek sa-luut die DBV landswyd. Wat hulle alles doen en dìt nog sonder finansies. Baie dankie aan almal wat sò werk met onskuldige diere, julle sal jul beloning ontvang.

Loraine ·

Baie hartseer hoe kan mense dit doen. Het hulle geen gevoel nie. Is daar n telefoon nr. beskikbaar van SPCA ek sal graag n bydra wil maak.

Elandré ·

En so kom spul wrede gewetenlose diere moordenaars ook weg…sonder dat n oog geknip word in SA!!!!
DIS Ñ SKANDE!
Wat van manslag,vir die spul wreedaards?

Blondie ·

Ja @honourable member. As hul so min respek vir mense het hoe min respek moet hul vir diere hê

Georgie ·

Jaaaa…jys seker 99% reg!
En absoluut niks gebeur met hulle nie!
INTEENDEEL jy word ‘beloon’ om ‘speaker’v kabinet te word..!!

MVS ·

En dan moet ons ons medemens lief hê…. Dis soms bitter, bitter moeilik.

Kasper ·

Mense ek weet daar gaan nou weer diesulkes wees wat tekere gaan en se die SPCA is useless, maar laat ek julle vertel, daai mense is engele, want met bitter min, moet hulle verskriklik baie vermag. Hoekom nie sommer ‘n debiet order teken vir die DBV nie, dan maak jy sommer elke maand ‘n bydrae, of borg ‘n hok. Glo my vir so min as R60.00 ‘n maand kan dit hulle al baie help, en wat koop mens met daai bietjie geld vandag. Al kan jy nie geld skenk nie, raak betrokke by jou plaaslikke DBV, Hulle het altyd hulp nodig, al is dit net om te help met skoonmaak en regmaak van die perseel. Elke dierekind waardeer wat vir hulle gedoen word, kyk net in hulle ogies, en julle sal verstaan.

LB ·

Ek sou graag van die DBV wou verneem wanneer hulle besluit watter diere word uitgesit en hoekom. Daar is ‘n persepsie by ons wat ook diere wat haweloos is versorg en red vanaf die strate en met van die diere shelters te doen het dat ons versigtig moet wees om diere na die DBV te neem aangesien hulle baie maklik die diere uitsit. Is hierdie stelling waar?

Dawid ·

Skuus,nou mense…maar moet asb.nié so emosioneel en geskok,reageer nie…
In SA… word jy sommer nog die ‘speaker’ as jy jou diere laat vrek van verwaarlosing sonder enige vervolging…

Moedeloos ·

Ek glo baie meer mense sal diere aanneem as die DBV op n manier minder kon vra vir aanneming. Ek is bewus daarvan dat diere gesteriliseer word voor aanneming, maar is daar nie n manier om dit meer bekostigbaar te maak nie. Ook dalk mense wat diere het maar nie sterilisasie kan bekostig help nie.

Sê maar net ·

Ek sekondeer vir jou voorstel ” Moedeloos” dit is werklik ‘n baie duur storie.

Roosknop ·

Sit eerder al die diere uit en verlos hulle van toekomstige sogenaamde diere liefhebbers en spaar hulle toekomstige mishandeling. Sekere mense moet glad nie diere aanhou nie. Net soos sekere mense wat nooit kinders moes gehad het nie.

Jackie ·

Ek stem dat hierdie verwaarloosde diere liewers genadedood kry…want hul het reeds emosioneel en liggaamlik deur soveel trauma gegaan en wie kan bevestig hul gaan goed versorg wees na aanneming. Mense hou op om diere te kry as jy nie vir hul kan sorg….gaan jy jou kind verwaarloos envir DBV gee as jy moeg isvir hom/haar???? Sulke mense moet ernstig vervolg word!!!##

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.