Skenkings help vrou weer stap ná bus haar omry

Sharlene en haar ma, Sylvia, voor die ongeluk (Foto: Verskaf)

Jacaranda FM se Good Morning Angels het verlede week gratis mediese sorg van meer as R300 000 aan ʼn bedlêende vrou van Pretoria geskenk om haar te help om haar grootste droom te verwesenlik.

In Oktober 2019 is Sharlene Coopoosammy (37) in Pretoria deur ʼn munisipale bus omgery toe sy ʼn straat oorgesteek en vir ʼn ander motor gekoes het. Die bus het haar getref en sy het onder die bus ingerol. Coopoosammy was op pad na haar werk by ʼn lekkergoedwinkel toe die ongeluk plaasgevind het.

Coopoosammy het haar bekken op drie plekke gebreek en haar heup ontwrig. Sy kon nie die nodige operasies ondergaan nie omdat sy geen mediese fonds het nie. Sedert die ongeluk is sy dus afhanklik van haar pensioentrekker-ma se sorg aangesien sy nie kan stap of buk nie.

Good Morning Angels het van Coopoosammy te hore gekom, en mense het oudergewoonte hul harte en beursies oopgemaak om ʼn beter toekoms vir haar te skep.

Good Morning Angels kon dit regkry om R300 000 plus gratis mediese sorg te kry om lewensveranderende operasies vir Coopoosammy te verwerklik sodat sy haar grootste droom, om terug te gaan werk toe sodat sy weer geld kan verdien, kan vervul.

“Ek het by my ma ingetrek om na haar om te sien, maar die afgelope twee jaar is sy die een wat my soos ʼn baba versorg,” sê Coopoosammy.

“Ek kan slegs my arms gebruik en my ma moet andersins alles vir my doen. Ons bure en vriende help ook waar hulle kan, maar ek wil in staat wees om na myself om te sien.”

Sonder ʼn mediese fonds of ʼn manier om privaat sorg te bekostig, sal Coopoosammy nie weer kan stap nie.

Haar laaste assessering het aangedui dat daar geen rede behoort te wees dat sy nie weer kan loop, indien sy die nodige operasies en rehabilitasie ondergaan nie. Maar by ʼn staatshospitaal, en met geen inkomste, weet niemand hoe lank dit vir haar kan neem om dit te kry nie.

Volgens Good Morning Angels het Coopoosammy ondanks haar toestand en geweldige pyn deurlopend positief gebly oor die toekoms en hanteer sy haar werklikheid met grasie.

Dr. Helen Basson by Operation Healing Hands het Good Morning Angels genader en sal gratis mediese sorg aanbied en aan Coopoosammy se voete opereer sodat sy weer kan stap. Daarna sal hulle ook haar bekken rekonstrueer en haar heup vervang.

Trevor Case en sy span by Accident Angels sal die volle R300 000 skenk wat nodig is om vir enige teatertyd, hospitaalkoste en medikasie te betaal. Hulle sal ook help met ʼn biokinetikus vir rehabilitasie ná die operasies.

Coopoosammy se werkgewers by die lekkergoedwinkel het gesê haar werk is steeds beskikbaar vir haar wanneer sy van haar operasies herstel het.

“Ons wens is dat Sharlene weer op haar eie voete kan staan en ʼn produktiewe lid van die samelewing kan wees – iemand wat haar ma, haarself en haar gesondheidskwessies kan ondersteun. Sy is slegs 37 jaar oud en het nog baie lewe oor om te leef. Sy het so baie om die wêreld te bied,” het ʼn vriendin aan Good Morning Angels geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

koos10 ·

Dr. Helena Basson.
Sy doen bitter baie sulke operasies kosteloos, en is ‘n bitter goeie ortopeed.
Dankie Helena, dat jy in jou pa se spore volg!

Misky ·

Hierdie tipe gevalle is presies waarvoor die padongelukfonds gestig is. Maar nou is hulle bankkrot na al die jare se misbruik en korrupsie. Daai regering amptenare behoort hulle te skaam!!!!

Sterkte vorentoe Sharlene en dankie aan Jakaranda en in besonder Dr. Helen

Hennie ·

So geen derde party uitbetalings nie? En julle hou nie die stadsraad verantwoordelik nie? Baie bly sy word gehelp deur vuisvoos verbruikers. Tyd om te begin rebelleer teen hierdie fondse wat nie werk nie!

Bella ·

Absoluut skokkend dat sy nie die nodige hulp gekry het in die staat sektor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.