Die nieregeringsorganisasie Care Protect Invest South Africa (CPI SA) doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om verantwoordelik met hul skenkings gedurende die Covid-19-pandemie om te gaan.
CPI SA meen daar moet gewaak word teen individue of organisasies wat hulle voordoen as nieregeringsorganisasies.
“Ons is baie dankbaar dat die publiek wil gee, maar ons is bekommerd dat mense blindelings skenk sonder om seker te maak dat die organisasie aan wie hulle skenk, volgens die maatskaplike vereistes geregistreer is of selfs bestaan,” het Dinah Bronkhorst, die uitvoerende hoof van CPI SA, Maandag in ’n verklaring gesê.
Volgens Bronkhorst bied die Covid-19-pandemie die ideale geleentheid vir kansvatters om hulself as ʼn liefdadigheidsorganisasie voor te doen en sodoende geld vir eie gewin in te samel.
“Organisasies wat fondse insamel om maatskaplike verligting te gee, moet kan rekenskap gee van hoe hulle dit doen en met groot verantwoordelikheid optree,” meen Bronkhorst.
Sy verduidelik dat hoewel die departement van maatskaplike ontwikkeling onder skoot gekom het oor die sentralisering van skenkings, regulasies wel nodig is om te verseker dat skenkings wel by behoeftiges uitkom.
“Die uitdaging is om seker te maak dat daar effektiewe bestuur en kommunikasie plaasvind sodat ons almal saam werk aan een oplossing, naamlik maatskaplike verligting.”
CPI SA stel voor dat strenger maatreëls toegepas word met die registrasie van organisasies as liefdadigheidsorganisasies. “Wetgewing wat effektief op grondvlak uitgerol, bestuur en beheer word, sal die wanbestuur van maatskaplike hulp inperk,” verduidelik Bronkhorst.
Sluit sekerlik regering in!
Dit is juis hoekom skenkings direk in behoeftiges se hande geplaas word . So word ALLE kans vatters uitgeskakel .