Skenkings stroom in vir Danville se liggiehuis

Die Danville liggiehuis (Foto: Pieter Oosthuizen)

Danville se liggiehuis kon daarin slaag om sowat 1 400 kospakkies aan behoeftiges in die Danville-omgewing te oorhandig, nét betyds vir Kersfees.

Dít volg nadat die liggiehuis verlede week in ʼn krisis gedompel was met ’n tekort aan kruideniersware vir die jaarlikse Kerspakkies. Dit was so hittete of behoeftiges sou nié hierdie kospakkies kon ontvang nie, maar met leë hande weggewys moes word.

Celeste Muller van die Danville-liggiehuis het Maandag aan Maroela Media gesê kruideniersware het sedert Saterdagaand begin instroom – meer as genoeg vir die sowat 450 pakkies vir behoeftige bejaardes en 950 pakkies vir behoeftige gesinne. “Ons het veral Sondag verskriklik baie gekry.”

Brenda van der Merwe het dié projek deur die liggiehuis 24 jaar gelede begin om behoeftiges van kospakkies te voorsien sodat hulle ʼn gesellige feestyd kan geniet.

Volgens Muller, Brenda se sussie, het die meeste skenkings van lede van die publiek af gekom. “Was dit nie vir dié mense nie, weet ek nie wat ons sou doen nie,” sê sy.

Best Care-ambulansdiens het ook ’n enorme skenking oorhandig. Dié ambulansdiens het kruideniersware ter waarde van R10 000 geskenk.

Volgens Xander Loubser, woordvoerder van Best Care-ambulansdiens en voorsitter van hul jaarlikse Kersprojek, het Best Care besluit om die liggiehuis te help as deel van hul jaarlikse Kersprojek. Dié projek het toevallig Saterdagaand in Danville geëindig en “die Kersprojek-komitee het besluit hulle kan nie deur Danville ry sonder om ’n verskil te maak aan ’n projek wat al jare lank bestaan nie”.

Best Care het gevolglik van roete verander sodat hul halfpadhalte by die liggiehuis kon wees waartydens hulle hul skenking oorhandig het.

Muller vertel dat hulle steeds skenkings in oorvloed inkry – soveel dat daar selfs kruideniersware oorgebly het nadat die pakkies uitgedeel is. “Soos dit nou inkom, sal ons in Januarie weer soveel kospakkies kan uitdeel.

“Ons is baie dankaar. Dit het só baie gehelp,” sê sy.

Muller bedank almal wat kruideniersware geskenk het. “Dit bewys net weer dat daar baie mense is wat nog omgee vir hul medemens,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.