Skenkings stroom in vir inwoners ná huis brand

Die huis wat onder die brand deurgeloop het (Foto: Verskaf)

Skenkings het ingestroom vir die elf inwoners wat in nood gedompel is nadat hul huurhuis in Peacehaven in Vereeniging gedeeltelik deur ʼn brand verwoes is. ʼn Vierjarige seuntjie is in die brand dood.

Tersia Venter, die VF Plus-verteenwoordiger in Peacehaven en Drie Riviere in Vereeniging, vertel die brand het Vrydagaand 17 Julie uitgebreek in een van die kamers wat deur Nomvula Nzono (33) en haar seuns, Gift (8) en Thami (4), gehuur word. Dit is nog nie duidelik wat die brand veroorsaak het nie.

Venter vertel daar was die aand kragonderbrekings in Peacehaven. Hierdie gebied gaan glo al vir weke gebuk onder ontydige kragonderbrekings. Die krag het daardie aand konstant aan en af gegaan en die inwoners het kerse nader getrek vir lig.

“Net ná die krag weer aangegaan het, het een van die inwoners ʼn plofgeluid gehoor, wat klink soos ʼn glas wat breek. Daarna het rook uit Nzono se kamer gekom,” vertel Venter.

Nzono se twee seuns was op daardie stadium in die kamer. Gift het daarin geslaag om uit die brandende kamer te ontsnap, terwyl Thami steeds in die kamer vasgekeer was. Die vlamme het so vinnig versprei, hy kon nie daarin slaag om ook weg te kom nie. Nzono kon ook nie in die kamer inkom nie, omdat die vlamme reeds in die gang versprei het.

“Toe daardie vuur eers vlamvat, was daar geen keer nie. Die een inwoner van die huis sê sy kon nie eers aan haar kamer se handvatsel vat nie, want dit was te warm,” vertel Venter.

Venter sê Nzono het van buite die kamer gehoor hoe Thami skree, “Ek probeer uitkom Mamma, maar ek het nie krag nie”. Daar word vermoed dat Thami waarskynlik gesterf het as gevolg van die rook wat hom oorweldig het.

Die kamer wat in vlamme gehul was (Foto: Verskaf)

Venter het dadelik die brandweer na die huis ontbied. Die brand is betyds deur die brandweer geblus, voordat die res van die huis ook in vlamme opgegaan het. Nzono se kamer het heeltemal in puin gelê.

“Omdat die huis oud en sterk dubbel kleimure het, staan die mure van die kamer darem nog.”

Venter sê Nzono het van al haar besittings net die klere wat aan haar lyf was, oorgehad.

“Die res van die huis het toe onder die pikswart roet gelê. Die ander inwoners se kamers het brandskade opgedoen,” vertel Venter.

Venter het net na die brand as barmhartige samaritaan ingespring en onvermoeid gewerk om broodnodige goedere vir dié getraumatiseerde inwoners bymekaar te maak.

“Ek het navraag by ʼn klomp mense van die gemeenskap gedoen om met skenkings te help wat in die inwoners se onmiddellike behoeftes sal voorsien. Dit sluit noodsaaklikhede soos kos, klere, matrasse, komberse, kombuisware en meubels in,” vertel Venter. Sy het op groepe op sosiale media vir skenkings gevra.

Venter sê die reaksie van die gemeenskap het haar verwagtinge oortref.

“Mense van die Vereeniging-omgewing het nie geskroom om dadelik te reageer en ondersteuning aan te bied nie. Kospakkies, klere, komberse, matrasse en kruideniersware het terstond ingestroom. Iemand het vandag (Dinsdag) ʼn dubbelbed aangery. Mense van wyd en syd het bydraes gemaak en gehelp waar hulle kan,” vertel Venter.

Venter sê die onbaatsugtige ondersteuning is weereens ’n bewys van mense se grootmoedigheid en medemenslikheid in die Covid-19-tydperk, wat baie mense moedeloos gelaat het.

Venter sê sy gaan ook die nodige berading vir die inwoners reël. Sy sê hulle is baie getraumatiseer na die brand en kan nie ordentlik funksioneer nie.

Sy vertel Nzono bly tydelik by haar suster in Peacehaven. Twee van die ander inwoners moet ook tans tydelike blyplek soek terwyl die huis weer opgebou word.

Venter gaan ook help met die opbou van die huis. Sy sê sy beoog om plaaslike sakeondernemings te kontak om hulle te help met boumateriaal. “Ons het reeds baie goeie kwotasies vir die bouprojek ontvang. Weereens maak mense hul harte oop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Faraway ·

Terwyl ek lees . . . skiet my oë vol trane want saam met die verskriklike hartseer is daar LIEFDE.

Anoniem ·

Uiters tragies, maar hoekom moet liefde alewig net van 1 kant af kom?

Mariana ·

Me Venter dankie vir jou onbaatsugtige optrede en ook die van alle skenkers. Dit bewys maar net weer dat daar in moeilike tye, mense bymekaar kom en hulp verleen waar nodig. Dit is hartseer, simpatie met die mamma en boetie.

Jaco ·

11 mense in 1 huis. Die verhuring is seker op ‘n basis van elke kamer vir 1 gesin. Waar ek bly gebeur dit ook. Dit lei tot rioolverstoppings en oorbedrading, onwettige kragkonneksies en te veel elektriese goed wat terselfdertyd aan is trip die krag. Brande is ‘n groot gevaar. Maar as ek die huurders en die eienaars op dié goed wys, dan is ek ‘n rassis en alles anders wat sleg is. Tog was hulle doodstil toe 2 overcrowded huise onlangs binne 2 weke na mekaar afgebrande het.

Bigshow ·

Hoop regtig jou opmerking laat jou nou beter voel oor jouself.

Janine ·

Moes Jaco se kommentaar hom dan laat sleg voel? Dis immers die waarheid. En NIE net op een plek nie.

Niklaas ·

Baie tragies. Arme moeder wat magteloos moes hoor hoe die kind roep om hulp.

Mariana ·

Ai my hart gaan uit na die ma wat n kindjie verloor het ????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.