Skenkings stroom in vir vrou ná honde-aanval

Dupuo Kokolosi (47) is erg vermink nadat sy deur drie Amerikaanse veghonde verskeur is. (Foto: Verskaf)

ʼn Barmhartige samaritaan het ʼn Back-a-buddy-fonds gestig om Dupuo Kokolosi (47), die huiswerker wat verlede week deur drie Amerikaanse veghonde (pit bull terriers) in Potchefstroom verskeur is, by te staan.

Teen Maandag het lede van die publiek al meer as R14 000 tot dié fonds bygedra. Maandag alleen het weldoeners meer as R7 000 geskenk.

Maroela Media het vroeër berig dat Kokolosi in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg behandel word. Sy sal waarskynlik verskeie operasies moet ondergaan nadat sy ernstige beserings aan veral haar been en gesig opgedoen het.

Alma McGill, ʼn bemarkingsbestuurder van Johannesburg, het ná die voorval met Kokolosi se dogter, Patricia Modise, in verbinding getree en die fonds gestig om Kokolosi te help.

“Ek was so geskok toe ek lees wat gebeur het. Ek wou graag ʼn bydrae maak en het aanvanklik navraag gedoen oor of daar al ʼn fonds gestig is. Toe ek hoor daar is nog nie, het ek besluit om self een te begin waar mense bydraes kan maak.

“Die beserings wat sy [Kokolosi] opgedoen het, is lewensveranderend. Dis nie iets waarvoor ʼn mens kan beplan nie.”

Modise het Maandag aan Maroela Media gesê sy twyfel of haar kinders hul ouma sal herken wanneer hulle haar weer sien. Kokolosi is die broodwinner in die gesin en sorg vir haar dogter en twee kleinkinders.

Modise sê sy is dankbaar oor wat McGill vir hulle gedoen het en hoop dit sal haar ma help.

Sy het vroeër gesê sy oorweeg regstappe, maar dat sy nie in dié stadium regshulp kan bekostig nie.

Die belangrikste is egter dat haar ma nou die nodige mediese versorging kry – waarvoor die geld wat ingesamel word glo eerste aangewend sal word.

Maroela Media het Chandré van der Linde, Kokolosi se werkgewer en eienaar van die honde, se regsverteenwoordiger om kommentaar genader.

George Herbst sê hy sal Maandagaand met sy kliënt oorleg pleeg en dan skriftelik reageer.

Dié terugvoer sal bekendgemaak word sodra dit ontvang word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jean

Sy gaan nog ‘n paar miljoen by die honde eienaar ook kry, hy sal sy huis moet verkoop as hy ‘n huis besit en nie die geld het om haar te betaal nie.

piet

Vir wat het die eienaar nou al ‘n prokureur nodig, die familie het dan nog geen regsaksie ingestel nie (of word sy reeds strafregtelik aangekla)? Moenie vir my se sy wil nou die buurman dagvaar omdat hy die diere doodgeskiet het nie. Pfft.

Kobus

Hoekom geld insamel? Daar is sekerlik ‘n prokureur of twee in Potch wat haar sal help om die eienaar aanspreeklik te hou. Dalk moet ‘n Teen Pitt Bulls aksie begin word sodat dit verban word. Die diere is blykbaar waansinnig

Andre

Vir wat???

Karina

Daai stupid buurman moes nie net die honde doodgeskiet het nie.Die eienaar van daai honde moet nou die buurman dagvaar.Daai honde is baie mooi honde