Skep, skryf en lees saam met ATKV-Skryfskool

Foto ter illustrasie. (Foto:
Vladyslav Bahara/Unsplash)

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit (NWU) bied eersdaags in samewerking met die Byderhand-projek ʼn drieledige aanlyn kursus oor lokatiewe of plekspesifieke literatuur aan.

“Dit is wanneer ʼn verhaal of gedig voorgelees word in die ruimte of op die terrein waar fiksionele gebeure plaasvind,” verduidelik Bernard Odendaal, direkteur van die ATKV­Skryfskool.

Die Byderhand-projek fokus juis op die inisiëring en ontwikkeling van digitale installasies wat die lees en beluistering van nuutgeskepte literêre tekste moontlik maak in die omgewing en by die dinge wat in die tekste voorkom.

“Die projek neem dus literatuur en maak dit dan toeganklik vir ʼn wye gehoor en lesersmark,” sê Odendaal.

Lokatiewe literatuur is dus nie ʼn genre waarin geskep word nie, maar eerder ʼn voordrag daarvan. Sedert Byderhand se totstandkoming in 2015 het ʼn verskeidenheid kleiner projekte hieruit gekom.

Een hiervan is Byderhand Pionierstories en Tuinverse wat by die Pionierskool vir Siggestremdes en Blindiana Barista in Worcester aangebied is. Dit is ʼn interaktiewe leeservaring wat vir siende en siggestremde persone toeganklik is.

Volgens Odendaal kan enigeen deelneem, nie net as inisieerder van eenderse projekte nie, maar ook as skrywer wat stories in die formaat aanbied.

Hierdie aanlyn kursus deur die ATKV-Skryfskool fokus op die beplanning en aanbieding van soortgelyke lokatieweliteratuurprojekte. Dit word op 17 en 31 Julie en 21 Augustus aangebied en kos R300 per persoon. Inskrywings sluit op 10 Julie vanjaar.

Die multimedia-aard van lokatieweliteratuurprojekte vereis indiwiduele aandag en daarom word hoogstens 30 inskrywings aanvaar.

Vir meer inligting hieroor, skakel met Kobie van Aswegen by [email protected] of skakel haar by 018 299 1783 om meer te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Asgat ·

Ek hoop net Eskom het nie beurtkrag op daardie dae nie, want as daar beurtkrag is kry baie van ons glad nie sein tot dit weer aankom nie.

Marianna ·

Ek het nog die eerste ATKV skryfskool bygewoon. Daar was ‘n lekker gees en almal het net stories gepraat. So jammer dis nie weer by die kampus nie. Na daardie kursus het die skryfgogga my eers gebyt en het ek baie kinderboeke die lig laat sien. Ook self kursusse aangebied en skrywers vir Afrikaans gemaak. Dankie ATKV skryfskool en Prof. Hans.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.