Skep werk om menseregte te bevorder

rassisme mnn_com

Grafika: Mnn.com

Die vakbond Solidariteit het Woensdag gesê dat werk, en nie “hardnekkige” rassewetgewing of grondhervorming nie, menseregte ten grondslag lê.

Volgens dr. Eugene Brink, politieke ontleder verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, is regte sonder menswaardigheid nie werklik menseregte nie en is werk een van die vernaamste maniere om menswaardigheid aan mense te verleen.

“Die Pew-navorsingsinstituut se 2016-studie dui daarop dat Suid-Afrikaners se grootste rede tot kommer voor die deur van werkloosheid en misdaad gelê kan word en daarom moet dit ’n prioriteit wees om dringend werk te begin skep,” het Brink gesê.

Volgens Brink ry onverantwoordelike uitlatings deur politici en beleid oor grond egter werkskepping in die wiele omdat dit eiendomsreg in die gedrang bring en beleggers sodoende afskrik.

“Sowel die ANC as die EFF stel met die aanhoudende getokkel op grondhervorming strooipoppe op wat die aandag van die werklike probleme in die land, naamlik armoede en werkloosheid, aflei,” het Brink verduidelik.

Die regering se huidige stel beleidsrigtings gaan boonop nie daarin slaag om die werkloosheidsyfer van bo 27% te tem nie. “Die daarstel van sosialistiese beleid, beleidsonsekerheid en rassewetgewing moet gestaak word, terwyl die regerende party korrupsie in eie geledere moet vasvat sodat vertroue in die ekonomie herstel kan word en die sakesektor weer met vertroue kan belê.”

Brink wys daarop dat onderwys ’n sleutelrol hierin speel en daarom moet skole as platforms vir werk reggeruk word. “Ongelukkig sit ons in Suid-Afrika met die werklikheid dat sowat 80% van ons skole tans disfunksioneel is wat direk tot die werkloosheidskrisis bydra,” het Brink gesê.

“Meer mense wat werk, beteken ook minder mense wat van staatstoelaes afhanklik is, wat daartoe sal lei dat hulle hul selfseggenskap en waardigheid terugkry en daarmee saam sal dit ook ’n positiewe uitwerking op misdaad hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Rina Vermeulen ·

Solidariteit baie raak gevat maar ai toggie sal die regerende party hierna luister ek twyfel ten sterkste wonder self of hul ooit hier sal lees. Vertaal dit in engels ook en versprei dit daar waar hul oë dit kan sien

pieter ·

Hoe waar is dit tog nie , bid dat dit n werklikheid word vir n beter lewe vir almal

Ruby ·

Dalk moet die studente wat so vinnig toi-toi hul eie besighede begin en hul eie mense in diens neem.

Ek kan net dink watter verskoning gebruik gaan word…..apartheid sal een van dit wees.

snoefie ·

intussen vind maatskappye elke dag nuwe redes om van 50 – 65 jariges op die lelikste wyse ontslae te raak. die kyk in die oë van die sulkes as hulle skielik “onbevoeg” behind word. terwyl die “wyse” manne en vroue van die anc en EFF dink om wit Boers sonder vergoeding van hulle plase af te sit gaan elke werklose swarte LAND en n inkomste gee want die plaas gaan sy oues dra en gerieflik kom met veel waarvan hulle vir n jaar of vyf kan lewe. VIVA!

marous ·

Om werk te skep moet daar infrastruktuur , groei , stabiliteit en verantwoordelike regeringstelstels wees. Dit bestaan egter nie , en geen wesenlike vooruitsigte dat dit gaan verbeter nie.

AL ·

Die hele regering is disfunksioneel, wat nog te sê van die onderwysdepartement!

AL ·

Solidariteit moet die buzz woorde ‘werkskepping verleen menswaardigheid’ rondgooi soos die regering buzzwords rondgooi soos radikale ekonomiese transformasie en grond.
Dit sal die massas laat anders dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.