Skepper van ‘Haasdas’ se temamusiek sterf

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, oorhandig die FAK Prestige-toekenning aan Bennie Bierman in Augustus 2017. Foto: Verskaf

Bennie Bierman, die bekende Afrikaanse komponis wat onder meer die temamusiek vir Haasdas se nuuskas geskryf het, is Maandag in die ouderdom van 77 oorlede.

Bierman se dood is deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) in ʼn verklaring bevestig. Johan Jansen van Vuuren, kommunikasiebeampte van die FAK, het in die verklaring namens die FAK sy innige meegevoel met Bierman se vrou en kinders betuig.

“Bierman is sedert vroeg Augustus 2017 in die Alberton Netcare Unie-hospitaal opgeneem weens komplikasies ná ’n operasie. Daar het Bierman tussen sy geliefdes en musiek probeer aansterk,” lui die verklaring.

Maroela Media het vroeër berig die Cantare Kinderkoor het in Augustus verlede jaar ʼn koorfees aangebied waartydens Bierman ’n FAK Prestige-toekenning ontvang het vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek. Bierman was egter te siek om die toekenning by die koorfees self te ontvang en dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het die toekenning persoonlik in die hospitaal aan Bierman gaan oorhandig.

Langner het Bierman geloof vir sy onmisbare bydrae tot Afrikaanse musiek tydens sy luisterryke loopbaan. Bierman was van 1981 tot 1995 die hoof van musiek by die SAUK en het saam met mense soos Anton Hartmann die 1979 FAK-Sangbundel saamgestel en die temamusiek vir onder meer Haasdas se nuuskas en Bart Nel geskryf.

Hy was ook die komponis van Afrikaanse koorwerke wat wêreldwyd uitgevoer is. Ná sy aftrede was hy tot 1999 steeds die samesteller en aanbieder van die program Knapskoot op RSG. “Bierman het hom deur die jare onderskei as een van die land se top-musiekbeoordelaars, onder meer van boeremusiek. In die nuwe FAK-Sangbundel is “Jagterslied” opgeneem waarvan hy die note en woorde gekomponeer het,” het Langner gesê.

Langner het genoem dat “Jagterslied” ’n samevatting is van Bierman se lewensbeskouing:

Hier in die suidland van Afrika
lê ons spore ver en wyd,
onder die winter en somerson
jag ons met ned’righeid.
Deur die jare heen het ons bewaar met
eerbied vir ons land en respek vir mekaar.
Daar waar die springbok en koedoe wei
Waar die voëls op die winde sweef,
sien ons die hand van die Opperheer
wat mens en dier laat leef.
met ons kundigheid sal ons bewaar
vir môre wat nog kom
vir kinders in Afrika.

Reëlings vir Bierman se roudiens sal dié week deur sy familie bevestig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Toekennings ·

Dalk moet toekennings meer gereeld en vroeër toegeken word?
Sterkte aan die familie.

Jan Coetzer ·

Wat ‘n voorreg om hierdie man te kon ken en saam met hom te kom ‘n werk. Alberton Mannekoor gaan oom baie mis

Johann van der Linde ·

Dankbaar om hierdie gewaardeerde Oud- Potchefstroom Gimmie te ken. Hierdie begaafde man het ook eers as sektetaris en later Voorsitter van die Potchefstroomse Onderwyskollege se Studenteraad, kwaliteit diens gelewer. Hy was ‘n man wat met sy vaardighede en talente sy roeping vervul het. Ons bid vir Rina sy suster en sy eggenote en kinders die troos van die Here toe.

SARIE VAN HEERDEN ·

Hy lyk so gesond op die meegaande foto. Ons innige simpatie aan sy familie.

Namens die Bierman-familie ·

Liewe familie en vriende, die troosdiens van ons geliefde Bennie Bierman sal DV Donderdag 4 Januarie 2018 om 11:00 plaasvind vanuit die NG kerk Alberton wes, New Redruth. Die diens sal gelei word deur prof. Andries Breytenbach van die Colesberg distrik. Liefdegroete. Biermans

Tom & Lynnette Snyman ·

Ons groet ‘n jare lange vriend, rus sag Bennie ons gaan jou mis.
Kia ons innige en opregte meegevoel, mag die Here jou ook deur hierdie beproewing dra.
Liefdegroete: Tom & Lynnette Snyman

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.