Skermswewer val na sy dood in Wes-Kaap

Foto: kirstenstigling/Instagram

Die burgerlugvaartowerheid het gesê hy sal die dood van ʼn internasionale skermswewer ondersoek wat Vrydagmiddag tydens ʼn kompetisie in die Wes-Kaap gesterf het toe hy vermoedelik in ʼn sandstorm ingevlieg het.

Phindiwe Gwebu, woordvoerder van die burgerlugvaartowerheid, het aan Maroela Media gesê tot dusver is baie beperkte inligting oor die voorval beskikbaar.

“Sover ons kennis strek het die man in ʼn sandstorm ingevlieg en van daar af in die moeilikheid geraak. Hy was ʼn baie ervare skermswewer,” het Gwebu gesê.

Sy het gesê die man het veelvuldige beserings tydens die voorval opgedoen. Gwebu kon nie die oorledene se naam bevestig nie.

Johann Marais van die Wildernis-soek-en-redding (WSAR) het gesê die voorval het gebeur tydens ʼn kompetisie wat in Porterville aangebied is. Volgens hom is die skermswewer na ʼn hospitaal in Piketberg gehaas waar hy gesterf het.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie kan bevestig die voorval het Vrydag omstreeks 17:00 plaasgevind.

ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.