‘Skerp plaasveiligheid op’

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

AfriForum Gemeenskapsveiligheid doen ʼn beroep op boere, wat nog nie by hul plaaslike veiligheidstrukture betrokke is nie, om onmiddellik betrokke te raak.

Tussen Januarie en September vanjaar is daar reeds 257 plaasaanvalle en 41 plaasmoorde in Suid-Afrika aangemeld. ʼn Reeks wrede plaasaanvalle is reeds vir Oktober aangemeld – met drie boere wat verlede week in Mpumalanga vermoor is, en ʼn boer wat Vrydag in Limpopo vermoor is.

Hierdie vlaag plaasaanvalle het weer opnuut bewusmaking van veiligheid op plase en landelike gemeenskappe geskep.

Volgens Jacques Broodryk, woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het van die aanvalle gevolg nadat die gelykheidshof beslis het dat die dreunsang “Kill the boer” nie haatspraak is nie.

“Ná hierdie uitspraak het AfriForum dit duidelik gemaak dat hy hom daarop sal toespits om sy veiligheidstrukture uit te brei en ook om meer opleiding aan boere te bied,” sê Broodryk.

AfriForum het in 2022 sy Beveilig ʼn plaas-projek van stapel gestuur wat daarop fokus om boere die nodige opleiding te gee om plaasaanvalle te voorkom en af te weer. Dié opleiding is gratis en sluit basiese vuurwapenhantering, noodhulp, huis-en-haard-beskerming, asook ’n oorsig van die nodige kommunikasiestelsels in.

“Landelike gebiede het unieke uitdagings wanneer dit by polisiëring kom. Faktore soos die groot afstande tussen bure en die tyd wat dit nooddienste neem om te reageer, maak dit nog belangriker vir landelike inwoners om hulself te organiseer.”

Broodryk is daarvan oortuig dat die aantal plaasaanvalle en -moorde vanjaar baie hoër sou wees as dit nie was dat al hoe meer boere hul veiligheid begin prioritiseer het nie.

“Ons het ongelukkig ʼn punt bereik waar dit nie meer help om net druk op die regering te plaas om misdaad te takel nie. Ons is nou op ʼn plek waar burgers self by hul plaaslike veiligheidstrukture soos buurtwagte, hetsy landelik of stedelik, betrokke moet raak.

“In die gebiede waar boere goed georganiseerd is met kommunikasienetwerke, reaksiespanne en voorkomende aksies soos patrollies, is daar oor die algemeen ʼn duidelike afname in misdaad.”

Maroela Media het vroeër berig kenners meen begin Oktober kenmerk altyd die aanloop tot die komende feestyd, wat ʼn verhoogde risiko van misdaad op plase en kleinhoewes inhou.

Die kenners meen hoewel boere in Suid-Afrika self verantwoordelikheid vir hul veiligheid op plase moet neem, is samewerking in gemeenskappe deurslaggewend in die skep van ʼn veiliger omgewing. Maatskaplike bewusmaking is ook belangrik en kan ʼn goeie dryfveer vir beleidsverandering wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

skurweberg ·

Is ons mense opelei om weerstand te bied? Of mag ons nie?

Dit wat nou op plase gebeur is dat ons met ‘n asimmetrieseoorlogvoering sit.

ES ·

Ek stem – boere moet begin om opgelei te word om reg en vinnig te kan optree in situasies waar hul lewe in gevaar is.

George ·

Jy kan by enige gun range opleiding kry, asook baie private maatskappye wat dit bied.

Boatsie ·

Mense die storie met dieselfde rympie hoor mens oor en oor en oor en oor van SAAI AGRI SA, AFRIFORUM , SOLIDARITEIT, Landbou Unies,
Afgevaardigdes gaan oorsee en gaan kyk en praat mooi stories en kom terug met beloftes, maar hier op die grond gebeur niks.
As hul nou nog nie besef die Polisie of weermag of Minister niks gaan doen nie dan weet ek nie.
Ek wens ek kon in die kristalbal kyk of my towers soffie slaan, masi ai!!!!
Iewers sal iets groot moet gebeur of die ” Ridder op die Wit petd moet kom, want so kan die moord en doodslag op ons plase nie net aangaan nie.

Nico ·

Al wat hierdie groepe van jou vra is om aan te sluit. Hierdie groepe soos Solidariteit, AfriForum en die meer moet hul laksheid los en iets doen aan hierdie saak. Twee miljard rand word gegee vir die beskerming van die baie belangrikke persone en wat word daaraan gedoen niks!!

Christine ·

Nico, Solidariteit en Afriforum is die ENIGSTE organisasies wat IETS doen! Wat doen jy om te help, behalwe om te kritiseer? Sluit aan en bring jou goeie idees om die uiters moeilike omstandighede en probleme op te los.

Nico ·

Hierdie ANC regering is meer bekommerd oor hoe hulle lewe, van veiligheid is daar geen sprake nie, selfs die swart mense ly daaronder. Geen polisie mag, geen weermag.

Christine ·

Gisteraand op die nuus gehoor dat ons private sekuriteitsmaatskappye van meer lede en intelligensie beskik as ons land se polisiemag. Dis ons enigste redding vir die toekoms!

Lillian ·

Jare al word daar net gepraat, en gepraat en gepraat, wanneer gaan daar daadwerklik opgetree word? Die regering voel vere, en ons boere hou aan met ly.
Ek wens niemand die smart toe van ‘n geliefde wat op ‘n plaas vermoor is toe nie. Daardie gat bly in jou hart vir altyd.

ES ·

Ongelukkig gaan “ander mense” niks doen aan die probleem nie. Boere gaan hulself moet bewapen – veral die wat nog nie het nie – en hulle gaan vir opleiding en bewusmakingskursusse gaan sodat hulle hulself en hul bure kan help in noodsituasies en hulself kan beskerm.

Selfonderhoud is die enigste oplossing. Ons regering kan nie (en wil nie) sy eie mense ondersteun nie en die polisie is nie net korrup nie, maar is ook swak toegerus en onderbefonds om almal te kan beskerm.

Mense moet ophou om aan ander deure te klop en begin om self die probleem aan te pak. Die misdadiger moet begin om sy slagoffer te vrees.

Manie ·

Maklik gesê “skerp plaasveiligheid op”. Hoe beveilig jy elke hoek en draai van ‘n 3000 + hektaar plaas?

George ·

Die waarheid is ook dat baie boere/mense nie deel wil wees van die gemeenskap nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.