Skerp polisiebeamptes trek berugte ‘Tupperware-dief’ vas

Konst. Julien Titus by die gesteelde tupperware-produkte. Foto: Verskaf

Konst. Julien Titus by die gesteelde tupperware-produkte. Foto: Verskaf

Die polisie in Upington in die Noord-Kaap het Vrydag ʼn vermeende inbreker vasgetrek wat in die gemeenskap bekendstaan as die “Tupperware-dief”.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die 25-jarige man het na bewering drie keer in die afgelope drie maande by dieselfde onderneming ingebreek en Tupperware-produkte gesteel. “Die laaste inbraak het op 1 Julie plaasgevind,” het Naidu gesê. “Veiligheidskameras het beeldmateriaal vasgevang van die man wat die Tupperware-produkte steel.”

Naidu het gesê konstabels Julian Titus en Pius Joodt was by die plaaslike verkeerskantoor toe hulle ʼn foto van die vermeende ‘Tupperware-dief’ op die kennisgewingbord gesien het. Daar is aan hulle gesê dat die man se foto op die bord geplaas is, omdat hy nie meer die verkeerskantore mag binnekom nie. Hy het na bewering baie oproerig opgetree toe hy voorheen in die kantoor was.

Titus en Joodt het navraag oor die man se identiteit gedoen en hom vinnig in hegtenis geneem. “Daar is beslag gelê op Tupperware-produkte ter waarde van R19 000 by drie huise in die omgewing,” het Naidu gesê. “Die verdagte het glo die gesteelde Tupperware-produkte aan inwoners in die gemeenskap verkoop.”

Die man sal Maandag in die Upington-landdroshof verskyn op drie aanklagte van huisbraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eileen ·

Sou nou baie graag wou geweet het of hy sy kliente dieselfde prys gevra het vir die Tupper produk soos in hul boekies geadverteer, of het hy darem bietjie afslag gegee vir die ” wear & tear”.

Winston ·

En die “niks vermoedende” gemeenskap koop maar net. Natuurlik teen n afslag prys. Hy het net die ware gevat. Nie die katalogus nie. Arrogante…….! (woord nie toegelaat nie)

medepligtige? ·

So as ek nou by die persoon onwetend die produkte gekoop het, kan ek dan in moeilikheid kom omdat daar gesteelde goedere is in my Tupperware kas?

Winston ·

Onwetend? Hoe weet mens dit? Hy lê geen katalogus voor nie, verkoop goedkoper as markwaarde, ens. Jy RUIK DIE DOOIE ROT! En ja, indien die polisie dit in jou kas vind, mag hulle beslag daarop lê en jy kry GEEN vergoeding nie. Dis gesteelde eiendom en is iemand anders sy besit reg ontneem. Pasop vir gesteelde goed koop!

Poppie ·

Eish!!! Hy wou ook maar net sy eie onderneming begin. Hoe anders kon hy dit doen. Want gewoonlik moet jy geld insit voor jy kan uitkry, en hy het nie iets gehad om in te sit nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.